Ek het TED ontdek

Wow! Soms verras die internet en rondkyk op die internet selfs nog vir my na hoevele jare wat ek al gerekenariseer is (sedert 1983 plus-minus).

Hierdie week het dit weer gebeur toe ek TED ontdek het. Vir die van julle wat nog nooit van TED gehoor het nie: TED is ‘n webblad waarop mense geleentheid gegee word om met ‘n gehoor idees te deel wat werklik mense en selfs die wêreld kan verander as hulle dit hoor.

Hier is ‘n skakel na ‘n lys van hierdie videos wat op TED al vertoon is oor alles en nog wat: https://docs.google.com/spreadsheet/ccc?key=0AsKzpC8gYBmTcGpHbFlILThBSzhmZkRhNm8yYllsWGc&hl=en#gid=0

So het ek hierdie week na ‘n hele paar merkwaardige video-gesprekke op TED gekyk.

Die laaste daarvan was ‘n 5 minuut-lange video van Hannah Brencher wat vertel het van hoe sy begin het om as 22-jarige liefdesbriefies oral op die Kollege-kampus neer te sit om iemand se dag op te vrolik. En sy het vertel hoe dit uitgekring het na alle dele van die wêreld.

Hier is die skakel daarheen as jy wil gaan kyk: http://www.ted.com/talks/hannah_brencher_love_letters_to_strangers.html

Inpsirerend, laat ek jou waarborg!

En dan was daar Iqbal Quadir, ‘n wêreldbankier, wat begin het om armoede in Bangladesh te verlig deur mense te help om ‘n selfoon te koop en so hulle eie klein telefoon-besigheid op die been te bring.

Hier is die skakel daarheen: http://www.ted.com/talks/iqbal_quadir_says_mobiles_fight_poverty.html

En dan was daar die sielkundige, Shawn Achor, wat vertel het watter verskil ‘n klein bietjie positiwiteit in mense se lewens kan maak.

Hoe jy jou brein kan help om blywende positiewe veranderinge te maak deur net vir 2 minute per dag vir 21 dae die volgende oefeninge te doen:

1. Elke dag vir jouself 3 nuwe dinge op te noem aan die einde van elke dag waaroor jy dankbaar is – wat jy help om meer op die positiewe dinge as die gewone negatiewe dinge elke dag te fokus
2. Deur dagboek te begin hou deur oor een van hierdie positiewe dinge te skryf wat gedurende daardie dag gebeur het – wat jou sommer help om daardie positief ding wat gebeur het weer ‘n keer te ervaar
3. Deur op die manier jou brein te begin oefen om meer positief te dink, en so gelukkiger te wees wat die geheim is tot ‘n beter lewe in alle opsigte
4. Deur elke dag stil te word en te mediteer vir 2 minute. Wat jou sommer help om te ontdek dat ‘n suksesvolle lewe nie soseer die gevolg is van meer en meer dinge te doen nie, maar eerder daarin geleë is om te fokus op dit waarmee jy nou besig is en dit meer te geniet
5. “Random acts of Kindness” te doen waar jy ookal die geleentheid kry.

Laat ek jou verseker, hierdie praatjie gaan jou inspireer soos iets lanklaas gedoen het. Hier is die skakel daarheen: http://www.ted.com/talks/shawn_achor_the_happy_secret_to_better_work.html