‘n Spesiale dankie

Vandag voel ek om ’n spesiale dankie te sê aan die persone wat sporadies of maand vir maand in ons bediening en lewe saai.

Natuurlik nie net vir die finansiële saai in ons lewens sodat ons genoeg kan hê en kan doen wat God ons aansê om te doen nie, maar ook vir die saai van liefde in soveel vorms: waarderende eposse of ’n telefoonoproep, of om dit vir ons moontlik te maak om ’n dag of twee sommer net eenkant weg te breek van alles om net weer perspektief te kry.

En dan is daardie klompie mense wat werklik moeite doen om ons vriende te wees. En dit is moeite, want ons is besig en ry die hele land vol. Om dus by ons uit te kom of saam met ons te kuier of tyd te spandeer, moet soms op die snaaksste tye en plekke gebeur. Daarom wil ons dankie sê vir julle wat vasbyt en moeite doen.

Maar ek wil veral hier dankie sê vir diegene wat finansies en goed saai in die bediening wat God ons mee vertrou. Ons voel soos boere wat moet boer met ander mense se geld en goed wat hulle gee om God se Koninkryk te laat kom en wat bid vir ’n geseënde geestelike oes.

En laat ek dadelik sê: Dit is vir ons ’n geweldige verantwoordelikheid waarmee ons groot erns maak.

Daarom wil ons vir julle “foto’s” wys van die “oes op die land”.

Wat ’n voorreg om vir julle te vertel van al die seën waar ons met manne en vroue in allerlei bedieninge hande vat en maar net doen wat die Here ons aansê om daar te doen.

Soos om ’n boer soos Roelie Feenstra te help om sy boekie oor die doop so te skryf dat die gewone Jan Alleman dit kan verstaan wanneer hy of sy dit te lese kry. Ek staan net elke dag verstom oor die duisende mense oor die land wat hierdeur soveel seën ontvang het en deur God bedien is.

Dan is daar soveel gemeenteleiers en ander geestelike leiers wat waag om ons geleentheid te gee om God se mense daar rondom hulle te bedien met wat die Here ons gegee het. Prys die Here vir al die getuienisse van bekerings, bevryding, genesing, geestelike verdieping, bemoediging, ens.

Dankie, vir al die huisgemeentes en huisgroepe oor die land en die wêreld wat op die een of ander wyse ons toelaat daar tussen hulle.

En dankie vir al die derduisende huise en kantore wat my toelaat om via epos week vir week julle te mag bedien met die slukkies nuwe wyn wat God my mee bedien.

Dankie, ook vir elkeen wat die toerustingsmateriaal wat ek geskryf en of gepubliseer het, aangekoop het, self gelees het en ook selfs gebruik het om in groepe ander gelowiges mee te bedien. Watter merkwaardige stories hoor ons nie uit alle rigtings van wat God hierdeur besig is om te doen nie.

Vir julle almal wil ek iets baie belangrik sê waarvan die Here my in hierdie tyd oortuig: Ons staan aan die begin van ’n buitengewone herlewing! Die eerste druppels het reeds geval. Maar die groot reën kom nog. Om die eerlike waarheid te sê, ek glo ons gaan in die volgende drie maande nog meer hiervan sien!

Daarom is dit vir ons groot erns om God se mense gereed te kry en toe te rus om effektief deur God gebruik te kan word as dinge begin gebeur!

Hoe sê een geestelike leier nou die dag: Dit gaan ’n gesiglose, naamlose herlewing dié wees waar God deur Sy Gees enigeen en alles gaan gebruik wat ons gewilliglik vir Hom aanbied om te gebruik om te laat gebeur wat moet gebeur! Hierdie gaan nie ’n herlewing van groot, bekende predikers en evangeliste wees nie. Hy wil ons almal en alles gebruik wat ons wil gee.

Dankie, dus vir jou saad juis in hierdie dae.

Soos daar in Lukas 15 staan: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.

Dankie, dat julle bereid is om finansies gee sodat mense ingelei kan word in die Koninkryk. Dink net, as jy eendag die hemele instap na jou dood en daar wag honderde mense voor die troon van Jesus wat vir Hom sê: Jesus, hier kom So-en so. Hy/sy was bereid om te gee en daarom is ons hier. Daardie geld van hom/haar het in ons lewe hierdie wonderlike geestelike oes gelewer!

Julle broer en suster in bediening
Christo en Hetta Nel

Advertisements