Kom ons begin weer die regte feeste vier

Een van my beste vriende skryf vir my die volgende vanoggend: “Ek het die Here gebid oor die feeste en ‘n duidelike antwoord gekry. Die Here het my duidelik geantwoord met die volgende woorde. “Wat sou jy gemaak het as Ek aan huis by jou was op een van die dae wat Ek iets groot vir julle gedoen het.”

Ek het dadelik geweet wat ek en ek is seker enige mens sou doen. Ek sou al my vriende nooi en ons sou saam tot Sy eer bid sing en eet.”

Daarom wil ek hiermee elke volgeling van Jesus wat deel is van God se Nuwe Verbondsgeloof-gemeenskap oproep om weer te begin om saam met ander volgelinge van Jesus die REGTE FEESTE te vier.

1. Ons eerste en belangrikste fees is die fees “so dikwels as moontlik” waar ons saam die brood en die beker gebruik om mekaar te herinner aan dit wat Jesus vir ons gedoen het deur Sy kruisdood en opstanding.

2. Dan is daar die gebeure rondom die kruisiging en opstanding van Jesus wat ons weer met erns op die regte dae moet vier. Dit is uit ‘n deeglike studie oor daardie gebeure duidelik dat Jesus reeds die Woensdag gekruisig is, en so om en by 15h00 daardie middag gesterf het. Net na 17h00 het Sy vriende Hom kom afhaal van die kruis en gaan begrawe.

Erens na die Saterdagaand 18h00, met die aanbreek van die eerste dag van die week (volgens die Joodse Kalender) het Hy opgestaan.

Kom ons maak ‘n punt daarvan om van die Woensdagaand af tot die Sondag van daardie week wat die geskiedenis van die wêreld, en ons eie lewens, verander het, te herdenk en te vier.

3. Dan is daar soveel geleenthede waar ons dankie-sê feeste kan vier: met oestye, na goeie reëns, na tye van groot seën.

4. En dan is daar die herdenking van Jesus se geboorte. Die nuutste navorsing wys ons baie beslis dat Sy geboorte glad nie in Desembermaand plaasgevind het nie, maar eerder opp die 11de September 3 v.C.

Vir die volledige stuk navorsing hieroor gaan asseblief na my webblad toe by Nuwewyn.co.za na

Hier volg die laaste Deel 3 van hierdie artikel:

“Ons weet seker nou almal reeds dat Jesus dus nie op 25 Desember van watter jaar ookal gebore is nie. Uit ons berekening weet ons nou wel dat die Magi of Oosterse sterrekundiges Hom op die 25de Desember 2 v.C. met hulle skenke kom vereer het en dat Hy toe al ‘n hele klompie maande oud was.

Om Jesus se geboortedatum te bereken, moet ons eers die kronologiese inligting oor die geboorte en lewe van Johannes die Doper in berekening bring.

So weet ons byvoorbeeld dat Johannes 6 maande ouer was as Jesus (volgens Luk. 1:24,26 en 36). Verder weet ons ook dat Johannes met sy bediening begin het in die 15de jaar van Keiser Tiberius – wat dan van 19 Aug. 28 n.C. tot 18 Aug. 29 n.C. gestrek het- volgens Luk. 3:1. Ons het ook reeds vir mekaar vertel dat Jesus self met Sy openbare bediening begin het tot Hy “omtrent 30 jaar oud was”, volgens Luk. 3:23.

Verder weet ons ook dat Johannes die Doper se moeder bevrug is gedurende die tyd toe sy pa besig was om sy priesterlike pligte te vervul, op die aangewese tyd wat sy diensgroep moes diens doen in die tempel (Luk. 1:5 e.v.). Ons weet ook dat Sagaria uit die diensgroep van Abia was, wat gewoonlik die 8ste diensbeurt uit die gewone 24 diensbeurte waargeneem het (volgens die 24 diensbeurt-stelsel wat Koning Dawid nog ingestel het (1 Kron. 24:10). Aangesien elke diensbeurt vir ‘n week lank geduur het, het die Abia-diensgroep 2 keer per jaar diens gedoen. Die 8ste diensgroep se eerste diensbeurt was dan van 19 Mei tot 26 Mei.

Maar, soos ons lees, het die engel aan Sagaria gedurende sy diensbeurt verskyn en het hy stom geword. Wat hom onmiddellik ongeskik gemaak het vir verdere dienslewering as priester gedurende daardie diensbeurt, volgens Lev. 21:16-23. Hy is dus onmiddellik huis toe gestuur toe dit gebeur het. Hy het heelwaarskynlik êrens tussen 26 Mei en 1 Junie huis toe gekom, en dit was dan in hierdie tyd wat sy vrou, Elisabet, swanger geword het.

Voltooi ons dus hierdie berekeninge, sou Johannes rondom 10 Maart 3 v.C gebore gewees het. Wat Jesus, die Christus, se geboorte so ses maande later, êrens in die eerste helfde van September 3 v.C. dateer.

Die rede waarom die meeste geleerdes aanneem dat dit hierdie gebeure in Sagaria se lewe nie tydens sy tweede diensbeurt gebeur het nie, is omdat dit Johannes se geboorte na middel-September dan sou verskuif het en Jesus s’n na Maart-maand. En dit sou dan beteken dat Jesus se ouers Betlehem toe moes gaan gedurende die hoog-reënseisoen, wat hoogs onwaarskynlik in daardie streke sou wees.

Wat dit verder bevestig was die gebeure 30 jaar later. Toe het Johannes heelwaarskynlik in die meer droeër seisoen die mense gedoop, wat dit in Augustus-September geplaas het en wat dan heeltemal sin sou maak, eerder as 6 maande later, in Februarie-Maart, wat dit heeltemal te koud was vir die dopery.

‘n Laat-Somer of vroeg-Herfs-datering word verder bevestig as Lukas vir ons vertel dat die herders na hulle skape die nag in die veld omgesien het toe Jesus gebore is (Luk. 2:8). (Alhoewel dit nie omstootbare getuienis is nie, bevestig dit wel ons datering(omdat die winters nie deurentyd in Palestina so straf was nie en dat skape soms wel selfs in die wintermaande buite gelos is).

‘n Verdere sleutel ter bevestiging van hierdie datering van Jesus, die Christus, se geboortedatum lê opgesluit in die simbool waarvan ons in Op. 12:1-6 lees. Kom ek haal dit vir jou aan, met my interpretasie in hakies tussen-in: “Toe het daar ‘n groot teken in die hemel verskyn (‘n bepaalde sterrekonstelasie, bv.): daar was ‘n vrou (die sterre-konstelasie, Virgo) met die son as kleed om haar, die maan onder haar voete, en op haar kop ‘n kroon van twaalf sterre (in die Norton se Sterre-Atlas is daar 12 sigbare sterre rondom die “Virgo” se kop, nl Pi, Nu, Beta, Sigma, Chi, Iota, Theta, Ster 60, Delta, Ster 93, Beta en Omikron). Sy was swanger (die maagd, Maria, wat swanger was met Jesus, die Christus) en het geskree van die pyn, want die geboortepyne was daar. Daar het ook ‘n ander teken in die hemel verskyn: daar was ‘n groot vuurrooi draak ( een van die sterre in die Leo-konstelasie) met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe was daar sewe heerserskrone. Sy stert het ‘n derde van die sterre van die hemel saamgesleep en hulle op die aarde gegooi. Die draak het voor die vrou gestaan (in die vorm van Herodus, die Grote) wat op die punt was om ‘n kind te kry. Hy wou haar kind verslind sodra sy hom in die wêreld bring. Sy het ‘n kind in die wêreld gebring, ‘n seun (Jesus, die Christus), bestem om al die nasies met ‘n ystersepter te regeer. Haar kind is egter weggeruk na God en na sy troon toe (met Christus se hemelvaart), en die vrou het na die woestyn toe gevlug waar God vir haar ‘n plek gereed gemaak het, sodat die mense haar daar twaalf honderd en sestig dae lank kon versorg.”

Sterre tydens Jesus se geboorte

As ‘n mens verder die posisies van die son en die maan in hierdie “teken” met erns bejeën, en kyk presies wanneer alles in die hemelruim in posisie was soos Johannes dit in hierdie profetiese woord beskryf, was alles presies so in posisie vir plus minus 2 ure, van 18:15 tot 19:45 op die 11de September 3 v.C., as jy daarna sou kyk vanuit Palestina. Dit was ook die enigste tyd daardie betrokke jaar wat dit presies so gelyk het. Dit was dan heelwaarskynlik presies die tyd wat die engel aan die skaapwagters in die veld verskyn het met die boodskap oor Sy geboorte (Luk. 2:8-11).
11 September 3 v.C. is om ‘n ander rede ook ‘n geweldig betekenisvolle dag. Dit was Tishri 1 op die Joodse Kalender. Met ander woorde, die Joodse Nuwejaar, ook bekend as Rosh Ha’shanah, of soos die Bybel dit noem, die Dag van die Trompette (Lev. 23:23-25).
Is dit nie aangrypend nie! Wat ‘n betekenisvolle dag vir die Messias om op aarde te verskyn! Om so te sê: ‘n nuwe tyd het aangebreek! Dit is ‘n nuwe begin vir Planeet Aarde, en so vir die hele Skepping.
Die Joodse feesjaar omvat 7 van die 12 maande van die jaar, waar elkeen van hierdie feeste aangekondig is deur die blaas van ‘n trompet (Num. 10:10). Die laaste van hierdie sewe maande was Tishri, en die laaste van die 7 trompette wat geblaas sou word, sou dan op Tishri 1 geblaas word (presies op tyd, 18h00) en betyds om die geboorte van die Messias die aand aan te kondig. Die Dag van die Trompette is ook die “Memorial day” vir die Jode, waarop hulle nadink oor die dag waarop ons weer almal mekaar gaan ontmoet en weer sal sien met die Finale Opstanding en Koms van die Messias. Dit was natuurlik ook die dag van die jaar waarop enige nuwe koning wat aan bewind moes kom, gekroon is as die nuwe koning. Op 1 Tishri, 3 v.C., het Planeet Aarde ‘n nuwe Koning gekry en het Sy Koningskap aangebreek!
Kom ons rangskik die gebeure in Jesus, die Christus, se lewe hier op Aarde kronologies in die lig van al hierdie gebeure en inligting:
• Josef en Maria het Betlehem toe gegaan vir die sensus kort voor die aanvang van die Joodse Nuwejaar, in die laat-somer, 3 v.C. (Luk. 2:4)
• Jesus is gebore in ‘n stal vroeg-aand op 11 September 3 v.C. , op 1 Tishri.
• Hy is besny op die 19de September 3 v.C. (Luk. 2:21).
• Hy is gewy in die Tempel op 21 Okt. 3 v.C.
• Lukas sê in Luk. 2:39: “Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die wet van die Here voorskryf, het hulle na Galilea toe teruggegaan, na hulle eie dorp, Nasaret.” Dit beteken dat hulle nie direk na Jesus se geboorte Egipte toe gegaan het nie.
• Vir die een of ander rede besluit hulle om Betlehem toe te trek en om daar te gaan woon. (Mat. 2:11). Dit kon in die Lente of Somer van 2 v.C. gewees het.
• En dan op 25 Des. 2 v.C., toe die planeet Jupiter “tot stilstand gekom het” in die middel van Virgo, met die meridiaan oor Betlehem, het die Magi in Betlehem aangekom met hulle geskenke wat vir die nuwe Koning bedoel was.
• Josef en Maria vlug daarna na Egipte, omdat die engel hulle gewaarsku het (laat Desember 2 v.C.)
• Herodus laat alle manlike kindertjies onder twee jaar in Betlehem en omgewing doodmaak, “… ooreenkomstig die tyd wat hy noukeurig by die sterrekykers uitgevra het” (Mat. 2:16). Nou verstaan ons dus ook waarom hy “twee jaar-oud en jonger” as die ouderdom gekies het van die seuntjies wat doodgemaak moes word, want Jesus was dan so 15 maande oud (en as jy nog die 9 maande-verwagtingstyd hierby tel, het ons presies 2 jaar).
• Josef en Maria keer terug uit Egipte en word vertel dat Herodus dood is (hy is dood op 1 Jan. 1 v.C.). Hulle gaan woon dan in Nasaret (Mat. 2:19-23).
• In die Lente, 11 n.C., besoek Jesus, die Christus, saam met sy ouers, weer Jerusalem vir die Paasfees (Luk. 2:41-42).
• Jesus, die Christus, begin Sy openbare bediening in Oktober of November 29 n.C. En dit is in lyn met wat in Luk. 3:23 staan as daar staan: “Toe Jesus met sy werk begin het, was Hy omtrent dertig jaar oud.”
(Hiermee wil ek erkenning gee aan die artikel van Jack Ballinger, van Maranatha Gemeente in Oklahoma City, wat as “Birth of Christ Recalculated” op die web verskyn het by http://www.versebyverse.org/doctrine/birthofchrist.html) wat my gehelp het om hierdie herberekening vir myself en ander te doen).

Advertisements