Die “ou” jy in elke gelowige volgeling van Jesus

Die Bybel openbaar op ’n paar plekke die verskriklikheid van die dodelike siekte waaraan elke mens ly van voor sy of haar geboorte af.

Dit is waarvan ons reeds in die Ou Testament lees, soos daar in Gen. 6:5, wat The Message soos volg vertaal: “God saw that human evil was out of control. People thought evil, imagined evil—evil, evil, evil from morning to night.

In elke mens is daar hierdie “ingebore natuur” wat sonde van nature liefgehad en aantreklik vind.
Vir elke ouer is dit ’n skok om te ontdek dat daardie klein kleuter van jou leuens kan vertel! En dit sonder dat jy as ouer dit ooit vir hulle geleer het!

So vind ons as mens van nature sonde uiters aantreklik en so gemaklik, sonder om eers daaroor te wroeg, soos om te skinder, te lieg en te bedrieg, ander te “bully”, te begeer en noem maar vêrder op. Van die vroegste van tye is dit deel van ons menslike natuur.

Ten spyte van ons beste pogings om hierdie “demone” in ons te tem of te boei, sy dit deur self-help-metodes of terapie, hou mense net aan om te stik in die walms van hierdie gebrokenheid en van nature geneigdheid om te sondig.

Dit is waarom die Evangelie oor Jesus Christus en wat Hy inderwaarheid kom doen het vir die mens, sulke goeie nuus is. Net Hy, deur Sy dood en opstanding, kan hierdie sondigheid en doodsheid in ons beeindig. Die geskenk van Sy lewe in ons deur die werking van Sy Gees, verander en maak alles nuut.
Wanneer die mens sy hoop en vertroue in Hom stel, ontvang ons hierdie geskenk van ’n nuwe lewe, verlossing, ’n herstelde liefdesverhouding met die God van hemel en aarde en word ons verlos van die hel waarheen ons op pad was en die hel waardeur ons reeds is.

As ’n gelowige volgeling van Jesus is dit belangrik om te onthou dat jou verlede nie net uitgewis en vergewe is nie, maar dat die krag van daardie sondige natuur in jou gebreek is. Dermate dat jy nie meer “sondaar” genoem kan word nie, maar verloste mens wat nou nie meer magteloos en hulpeloos staan teenoor daardie ou natuur in jou nie.

Natuurlik is daardie ou natuur, wat die Bybel “vlees” noem, steeds in elkeen van ons. Daarom sê die Bybel, het ons elke dag ’n geveg ophande, tot die dag wat ons sterf.

So hoor ons God se Gees aan ons daar in Gal. 5:16 e.v. sê: Laat toe dat die Heilige Gees in julle nou julle lewe beheer en lei.

Hoor hoe staan dit in die NLT: “So I say, let the Holy Spirit guide your lives. Then you won’t be doing what your sinful nature craves. The sinful nature wants to do evil, which is just the opposite of what the Spirit wants. And the Spirit gives us desires that are the opposite of what the sinful nature desires. These two forces are constantly fighting each other, so you are not free to carry out your good intentions.”

Moet dus nie dink dat omdat jy nou ’n volgeling van Jesus en deel van die Nuwe Testamentiese geloofgemeenskap is, wat ons Kerk van Jesus noem, die magte in jou finaal padgegee het nie. Om in Jesus te glo en Hom te volg, maak jou nie outomatiese ’n “beter mens” nie. Dit beteken net dat jy vergewe is en ’n nuwe natuur gegee is wat in staat is om hierdie magte in jou te oorwin wanneer jy onder die beheer van die Heilige Gees in jou is.

Ek en jy gaan nog daagliks teen hierdie stuk gebrokenheid en vlees in ons stry en stoei. Maar onder die beheer van die Heilige Gees kan ek en jy, tenspyte daarvan, ons Here Jesus dien en verheerlik met die lewe wat ons lewe en die keuses wat ons daagliks maak.

Maar onthou maar van hierdie interne konflik wat hierbinne in jou elke dag aan die gang is. Wat maak dat “die helfde van jou” wil bid, terwyl die ander helfde van jou nog wil slaap. Dit is wat maak dat een deel van jou graag gehoor wil gee aan die stem van die Heilige Gees hier binne-in jou wat vir jou aansê om vir iemand in nood te gee, terwyl die ander deel van jou dit suinig wil vashou vir die dag van môre.

Kom ons luister daarom na daardie sagte stem van God se Gees hierbinne in ons. Wat ons wil help hiermee.

Daarom het ons nodig om elke dag hierdie verklaring te maak van ons totale afhanklikheid van Jesus Christus en Sy Gees in ons … Sodat God se Koninkryk ook in ons en deur wat ons doen, sê en dink, kan kom.

Advertisements

Die hel is ‘n werklikheid

Die vorige keer het ons gesels oor die tragedie dat alhoewel die sensusvorms in Suid-Afrika ’n storie vertel dat bykans 80 persent van al die inwoners in hierdie land hulleself as lede van Christelike kerke beskryf, dit nie beteken dat hulle werklik gelowige verloste volgelinge van Jesus Christus is nie. Alhoewel hulle op papier erens deel is van die een of ander Christelike kerk, is hulle nie almal deel van die ware Nuwe Testamentiese Kerk of Ekklesia (dit is die Griekse woord in die Bybel wat ons met “kerk” vertaal het) nie.

Ek onthou hoe ek en my kollega vir bykans 3 jaar van huis tot huis en woonstel tot woonstel in die NG-gemeente, Potchefstroom-Mooirivier, persoonlike besoeke gedoen het by bykans 3000 lede van die gemeente, om tot die skokkende ontdekking te kom dat minder as 20 persent van die gemeente werklik kon getuig van ’n persoonlike geloofsverhouding met Jesus Christus as Verlosser en Here.

Die wêreldwye gebedsbeweging, Operation World, het vanuit navorsing tot die oortuiging gekom dat tussen 10 en 20 persent van lede van erkende Christelike kerke oor die hele wêreld werklik beskryf kan word as verloste gelowige volgelinge van Jesus Christus wat dus werklik deel van die ware Nuwe Testamentiese Kerk van Jesus Christus is.

Die skokkende realiteit is dus dat tussen 80 tot soveel as 90 persent van mense wat onder die indruk is dat hulle “gered is” en deel is van Jesus Christus se ware Kerk, totaal verlore en op pad hel toe is.

Ja, ek het “op pad hel toe…” gesê, want ek is oortuig dat “die hel” ’n verskriklike werklikheid is. En hier is my redes.

Kom ek sê dadelik dat die Bybel nie ’n geweldig uitvoerige prentjie van die hel vir ons skets nie, maar tog is daar oorgenoeg geopenbaar oor dit wat enige onduidelikheid of onsekerheid oor die bestaan daarvan onmiddellik uit die wegruim.

Jesus self het in Sy prediking in die sowat drie jaar lange openbare bediening drie-en-dertig keer na die “hel” as ’n werklikheid verwys. Een van hierdie gedeeltes is daar in Lukas 16:19-31.

Bestudeer ’n mens hierdie gedeelte is dit baie duidelik dat ons nie hier te make het met ’n gelykenis of net ’n storie om iets vir die skare te leer nie. Jesus praat hier van regte persone (kyk bv. vers 19,20 en 22); Hy verwys hier na ’n plek, Hades, in die Grieks; en beskryf dit in baie reële terme as ’n plek van ewige, onophoudelike pyniging, lyding en vuur.

Dit is belangrik om die Ou-Testamentiese prentjie van die doderyk in gedagte te hou. Die Ou Testament verdeel die doderyk in hierdie twee gedeeltes: Sheol en Abaddon (kyk bv. in Spr. 27:20). Hier in Lukas 16 sien ons die twee groepe mense: Die een groep daar rondom Abraham in ’n plek van rus, terwyl die ander groep in ’n deel van die doderyk reeds in hierdie staat van pyniging en vuur wag op God se finale oordeel.

Uit gedeeltes soos 1 Petrus 3:18 e.v. lei ons af dat Christus Jesus, na die kruisiging en opstanding, hierdie doderyk binnegegaan het om “daar Sy oorwinning aan te kondig”, maar ook om die gelowiges in oorwinning uit te lei na wat Hy as die “Paradys” beskryf het in die teenwoordigheid van God. (Die ongelowiges en ongehoorsames bly dus agter in daardie staat van pyniging en vuur en wag op God se finale oordeel).

Die gelowige volgelinge wat reeds gesterf het, beleef reeds “Paradys” daar in die teenwoordigheid van God die Vader en Jesus Christus, om dan by die finale oordeelsdag deel te kry aan ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Terwyl die ongelowiges vir ewig die volle gloed van God se toorn en oordeel gaan beleef in die hel.

As ’n mens verder kyk wat die Woord aan ons openbaar in Lukas 16 oor die hel voor die finale oordeel, dan sien ons dit is ’n plek/staat waar mense verligting soek; waar hulle, soos vers 28 aantoon, uiterse kwelling beleef oor diegene wat nog lewe, maar nie glo nie; en waar hulle in die lig van wat hulle beleef, begeer dat diegene op aarde wat nog leef die tyd sal gebruik om hulle te bekeer.

En let asseblief op: Daar is beslis ’n toekomstige, baie erger hel wat nog op hulle wag na die finale Oordeelsdag as dit waarna Jesus hier in Lukas 16 verwys het. Die Bybel openbaar heelwat daaroor. Dit is die finale eindbestemming van die duiwel en sy engele, maar ook van diegene wat bly volhard het in hulle ongeloof en ongehoorsaamheid. Verder gaan ’n plek/staat wees waar daar geen lig gaan wees nie en waar totale, uiterste duisternis gaan heers (Markus 8). Gedeeltes soos Openbaring 9, 11, 17 en 20 praat baie daaroor. Daar gaan geen rus (Openbaring 14:11) en ook geen hoop meer wees nie. Dit word selfs as ’n “bodemlose put” beskryf, waar daar dus niks konkreet is om aan te vat om jouself te oriënteer en in ’n mate nog jou “sanity” te behou nie.

Kom ek maak nog ’n stelling oor die hel, naamlik dat die hel nie aanvanklik vir die mens voorberei is nie. Mat. 25:41 lui soos volg in die verband: “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, julle vervloektes! Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is …”

Ek dink nie ons voer hierdie vers te vêr as ons daaruit sou aflei dat die hel nie aanvanklik vir die mens voorberei is nie. Dit was aanvanklik bedoel vir die duiwel en sy engele. God se hart, sê 1 Tim. 2:3 en 4, vir ons is dat alle mense gered sal word. Luister hoe staan dit hier: “So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

As gevolg van die mens se volgehoue ongehoorsaamheid en ongeloof om die wonderlike boodskap van die Nuwe Testamentiese Evangelie oor Jesus Christus te glo, moet daar nou ook plek vir hulle gemaak word in hierdie hel.

Ek weet nie van jou nie, maar dit motiveer my om erns te maak met my getuienis, tydig en ontydig. Want watter wonderlike boodskap en alternatief het ons nie om vir mense van te vertel nie!
Ons kan hulle vertel van ’n lewe in en saam met Jesus Christus wat tereg deur Jesus self as “lewe en dit in oorvloed” beskryf is. Waarvan die werklikheid van ’n hemel aan die einde ook deel is. Ja, ’n hemel wat vir diegene wat in Jesus glo, bedoel is.

Daarom kon Jesus immers daar in Johannes 14 vir Sy volgelinge die versekering gee: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En julle ken die weg na die plek waarheen Ek gaan.” (vers 1 tot 4)

Leer om Bybels te bid vir ander

Nou die dag by ʼn partytjie, loop ek ʼn ou raak met ʼn baie interessante storie oor die krag van gebed. Ek kan nie sy naam onthou nie, kom ons noem hom sommer Piet.

Piet was glo destyds in die spesmagte en het eers later in sy lewe tot bekering gekom. Radikaal! Ek kon duidelik sien die ou doen niks half nie. In sy oë was hy nou deel van God se spesmagte; ʼn recce vir Jesus. Die tipe ou wat almal in ʼn hysbak sou stil maak en iets sê soos: “Die hysbak gaan nou op. Maar sê nou die kabel breek en die hysbak gaan skielik af . . . gaan jy op of af?” En dan nooi hy almal om hulle saak met die Here net daar reg te maak. ’n Vreemde ou. Maar hy het iets van die koninkryk verstaan. Hy vertel my die volgende storie.

’n Groep Christen sakemanne het elke Woensdagaand saam gebid. Een aand nooi hulle vir Piet om ʼn kort boodskap te bring en hulle in gebed te lei. Na hy uit die Bybel gelees het gee hy ʼn kort boodskap en vra toe of daar enige gebedsversoeke is. Die een sakeman staan dadelik op en sê hulle moet asseblief vir Saartjie bid. Die ander stem saam, almal het gehoor wat met haar gebeur het.

Saartjie was ʼn maatskaplike werker wat letterlik haar hele lewe gegee het om mense in hulle nood by te staan – ’n ware sendeling in die gemeenskap. Sy het ʼn nederige lewe geleef; gewoon in ʼn klein woonstelletjie en ry op daardie stadium al baie jare lank dieselfde ou Volla. En nou is daai einste Volla gesteel en sy het nie versekering nie. Hulle moet asseblief nie vergeet om vir Saartjie te bid nie, sê die sakemanne.

Piet sê hy het die storie só gekyk en al meer ongemaklik begin voel.

“Waarvoor moet ons nou eintlik vir Saartjie bid?” vra hy. “Moet ons bid dat God vir haar ʼn kar uit die hemel uit beam?”

Die manne het hulle koppe geskud, nou verstaan hulle nie mooi nie.

Piet sê hy sal verduidelik, maar eers moet elkeen sê hoeveel karre hy besit. Tussen die ongeveer vyftien sakemanne was daar meer as veertig karre, vertel Piet. Hy het, in sy eie woorde, amper self ʼn gasket geblaas toe hy dit hoor, maar homself eerder ingehou en probeer verduidelik soos hy beloof het.

“Vanaand gaan ek julle ʼn spesiale soort gebed leer, en ek waarborg dat God dit gaan antwoord,” sê hy en haal die vers in Jakobus aan wat sê, julle kry nie omdat julle nie bid nie, en as julle bid kry julle nie omdat julle net julle selfsugtige begeertes wil bevredig.

“Vanaand gaan ons bid asof óns vir God werk, en nie Hy vir ons nie. Ons gaan aanmeld vir diens. En vir Hom vra wie van ons vir die Saartjie ʼn kar moet gee. ”

Die manne was skielik doodstil. Piet sê hulle het daai aand nie lank gebid nie, toe antwoord God hulle gebede. En gebeur daar ʼn wonderwerk in Saartjie se lewe. Sy was glo juis self besig om te bid in haar woonstel – ʼn klaaglied – toe daar skielik laat daardie aand ʼn klop aan haar voordeur is. ’n Vreemde man wat sy nog nooit gesien het nie, het haar vriendelik gegroet en ʼn bossie sleutels in haar hand gesit. Het nie gevra of sy gou saam met hom ʼn foto’tjie sal neem vir die sendingblad nie – nie eers gesê wat sy naam is nie. Net gesê die kar is van God af, hy stuur die papiere, en toe omgedraai en weggeloop.

Saartjie se klaaglied het in ‘n loflied verander. God het haar nood raakgesien, Hy het haar gebed verhoor, vertel sy die volgende dag vir almal wat sy teë kom.

Iemand het eenkeer gesê, gebed is nie ʼn poging om God se wil te verander nie, maar om sy wil te leer ken. Iemand anders het gesê, om te bid is om aan te meld vir diens. Die Nuwe Testament leer ons dat die gunsteling instrument waardeur God sy wil op aarde wil laat geskied, sy liggaam is; sy mense. Suid-Afrika kan ‘n ander plek wees as God se mense, elke keer wanneer hulle bid, ook sommer aanmeld vir diens.