Kom ons dink weer ‘n slag oor die Sabbat

Belangrike Skrifgedeeltes in die verband:

Die hele boek, Galasiërs, Kolossense, Hebreërs en Romeine, asook gedeeltes uit die Evangelie waar Jesus baie duidelik aandui dat Hy die hele wet van die Ou Testament en die profetiese gedeeltes van die Ou Testament in die verband kom vervul het en hulle volle betekenis vir ons kom aantoon het. Vgl. Mat 5-7 en ander verwante gedeeltes in die ander Evangelies.

Ek is oortuig dat die Bybel ons leer dat gelowige volgelinge van Jesus Christus nie meer onder die wet is nie, maar dat God ons die Heilige Gees geskenk het om in ons te woon en die wet in en deur ons te volbring en te gehoorsaam.

Gevolglik, leer die Nuwe Testament verder, het Christus al die seremoniële wette van die Ou Testament vervul en mee weggedoen, want leer die Nuwe Testament, hierdie wette was bloot “skaduwees” wat na Christus, Sy koms en wat Hy hier kom doen het, gewys het.

Met dit gesê, wat moet ons dan iemand antwoord wat vra: Is ons as volgelinge van Jesus verplig om die Sabbat te onderhou soos wat die Ou-Testamentiese Jode dit moes onderhou?

Omdat soveel mense my hierna die afgelope tyd vra, kom ek probeer ’n slag baie uitvoerig hierop te antwoord.

Ek wil begin wat God se Gees Paulus geïnspireer het om te skryf in Kol. 2:16-17: “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie.
Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.”

In hierdie gedeelte verwys Paulus na verskeie Ou-Testamentiese ordinansies en waarsku gelowiges om nie toe te laat dat mense aan hulle voorskrywe hoe en of hulle dit moet onderhou nie. Want sê hy, hierdie ordinansies uit die Ou Testament was skaduwees wat deur Jesus Christus se koms en wat Hy hier op aarde kom doen het, vervul is en daarom mag mense ons nie hier rondom oordeel nie.

Bybels gesproke is ’n skaduwee tog bedoel as ’n illustrasie na ’n aspek van Christus en Sy werk. Sulke Ou-Testamentiese skaduwees was dan gewoonlik fisiese mense, gebeure, verhale of dan wette/ordinansies wat iets van geestelike betekenis wou aandui oor Jesus Christus as die Messias.

Net soos ’n fisiese skaduwee lyk na die fisiese voorwerp waarvan dit dan die skaduwee is, so reflekteer ’n skaduwee in die Bybel die geestelike dinge wat Christus vir ons in die Nuwe Verbond bewerk en geskenk het. Bv. so was die Paaslam ’n skadubeeld van ons Here Jesus as die ware Lam van God (kyk bv. in 1 Kor. 5:7)

Daarom offer ons nie meer, soos die Ou-Testamentiese wet ons leer, die offerlam nie, want dit was bloot ’n skaduwee van die ware Lam wat in Christus en Sy koms volkome vervul is.

Die beginsel hieragter is dus dat dit wat as Bybelse skaduwees aan ons voorgehou word, hulle rol gespeel het en nie meer vir ons geld nie, die oomblik dat dit waarna die skaduwee verwys het op die toneel verskyn het.

So stateer Heb. 10:1 dan: “Die wet van Moses is slegs ‘n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ‘n werklike beeld daarvan nie.” (Die uitdrukking “wet van Moses” of “Tora van Moses” is ’n verwysing na die eerste vyf boeke van die Ou Testament wat bekend gestaan het as die Tora of Wet van Moses).

Ek wil nou nie hier uitvoerig ingaan in al hierdie dinge in die Ou Testament of wet van Moses wat dan bloot “skadubeelde” of “skaduwees” was wat in Christus Jesus se koms en werk vervul is en hulle volle betekenis gekry het nie.

Sabbatte, Nuwe Mane en Feeste

Hier in Kol. 2:16 verwys Paulus na 5 skadu’s wat ons vind in die Ou-Testamentiese wetgewing oor 1. Vleis; 2. Drank; 3. Feeste; 4. Nuwe Mane; en 5. Sabbatdae.

Die eerste twee verwys dan na wat ons eet en drink en die drie laaste verwys na die onderhouding van rein en heilige dae (vgl. Ook gedeeltes soos Heb. 9:10 e.v in die verband).

Kol. 2:16 en 17 verwys dan baie spesifiek na die onderhouding van die Ou-Testamentiese heilige dae wat dan as Sabbatte beskryf word.

Die vraag is or die Sabbatte waarvan ons hier in Kol. 2:16 lees, ook verwys na die Sewende Dag Sabbat, want as dit so is leer dit dat ook die Sewende Dag Sabbat ’n skadu was wat in Christus Jesus vervul is en wat ons dan nie meer verplig is om te onderhou nie.

Waarom ek dit sê is omdat daar mense is wat wil suggereer dat die Sabbatte waarvan ons hier in Kol. 2 lees nie na die Sabbat van die Sewende Dag van die week verwys nie, maar bloot ’n verwysing sou wees na die Sabbatte van die jaarlikse Feesdae waarvan ons lees in Lev. 23. Met ander woorde, dit sou bloot daardie feesdae as Sabbatdae aandui.

Regtig?

Kom ons kyk daarom ’n bietjie meer noukeurig na die Ou-Testamentiese wetgewing spesifiek oor die Sabbatte, die Nuwemaan-feeste en die ander Ou-Testamentiese Feeste.

Dit is baie duidelik uit die Griekse woord wat hier gebruik word wat hier vertaal is as “feeste” of “feesdae”, dat dit hierdie “feeste” of “feesdae” ’n verwysing is na die sewe feeste wat ons in Lev. 23 vind.

Dit is dus die volgende feeste: 1. Die Pasga of Joodse Paasfees; 2. Die Fees van die Ongesuurde Brood; 3. Die Fees van die Eerste Vrugte; 4. Die Fees van Pinkster of Oesfees; 5. Die Fees van die Trompette; 6. Die Groot Versoendag; en 7. Die Fees van die Tabernakels of Loof hutte-fees.

Op hierdie feesdae was Israel verplig om te rus, te vergader en offers te bring. En omdat hulle bedoel was as “rusdae”, is hulle dan ook Sabbatte genoem.

Die Nuwe Mane was maandelikse feeste wat gepaard gegaan het met offers en dankoffers, wat eenmaal per maand, elke 28 dae gehou is.
Dan was daar die Sabbat of Sewende Dag van die week wat ’n weeklikse dag van rus en offers was.

Kom ons lees net weer hierdie verse in Kol. 2:16 en 17: “Daarom moet julle nie dat iemand vir julle voorskrywe wat julle moet eet en drink nie, of dat julle die jaarlikse feeste of die nuwemaansfees of die sabbatdag moet vier nie.

Dit is alles maar net die skaduwee van wat sou kom; die werklikheid is Christus.”

Aangesien Paulus dus reeds na die feesdae of feeste van Lev. 23 verwys het as “feeste”, maak dit geen sin dat Paulus dus homself hier sou herhaal het deur aan die een kant van “jaarlikse feeste” te verwys en dan ook daarna weer sou verwys as “die sabbatdag” nie.

Naas die ander Sabbatdae wat as feesdae jaarliks gevier word, of saam met die nuwemaan-feesdae maandeliks gevier, is, noem Paulus dan apart die Sabbat wat weekliks gevier is as deel van sy argument.

Paulus verduidelik dus hiermee dat Christus dus die hele spektrum Joodse heilige dae kom vervul het, nl. die jaarlikse feeste, die maandelikse feeste en die weeklikse fees wat as Sabbatte onderhou is onder die Ou-Testamentiese Tora of Wet.

Maar net ingeval iemand nog hieraan sou twyfel, kom ek neem jou na ’n paar Ou-Testamentiese gedeeltes, wat Paulus heel waarskynlik gebruik het as “verwysing” of “riglyn” toe hy hieroor geskryf het.

Kyk na hierdie volgende gedeeltes om te sien wat ek bedoel:

1 Kron. 23:31
“Verder moes hulle help by die bring van al die offers vir die Here op sabbatte, nuwemaansfeeste en ander feestye. Dit moes voortdurend voor die Here geskied, volgens die reëlmaat wat daarvoor vasgestel is.”

2 Kron. 2:4
“Nou wil ek ‘n tempel bou vir die Naam van my God, die Here, en dit aan Hom wy. Daar sal ons Hom eer met wierookoffers, met offerbrood wat voortdurend daar is, en met brandoffers, elke môre en elke aand, elke sabbat, elke nuwemaan en elke vasgestelde feestyd van ons God, die Here. Dit is ‘n permanente verpligting wat op Israel rus.”

Neh. 10:33
“… vir die offerbrood, die gereelde graanoffer, die gereelde brandoffer, die offers op sabbatte, nuwemane, vasgestelde feestye en besondere gewyde dae, vir die sondeoffer om vir Israel versoening te doen, en vir al die werk in die huis van ons God.”

Ek glo dat dit vir enigiemand dus duidelik is dat Paulus hiermee na dieselfde 3 groepe heilige dae verwys het wat in hierdie gedeeltes in die Ou Testament voorkom.

Dit is dus duidelik dat as Paulus dus in Kol. 2:16 praat van “die sabbatdag” aan die einde van daardie vers, hy baie beslis praat van die weeklikse Sabbatdag of Sewende Dag en nie sou verwys het na die ander jaarlikse of maandelikse feesdae nie.

Die skadu van God se Rus
Om dus net weer saam te vat: Kol. 2:16 en 17 leer ons dus dat saam met die maandelikse en jaarlikse feeste onder die Ou-Testamentiese wet, is ook die weeklikse Sabbat ’n skadu wat volkome vervul is in Christus Jesus se koms en werk hier op aarde.

Maar nou is die vraag: Waarvan sou dit dan ’n skaduwee wees? En hoe het Christus Jesus dit vervul?

Heb. 4:3 tot 11 verskaf vir ons die antwoord op hierdie vrae.
“Ons wat glo, gaan wel in die rus in, maar hulle nie, soos God gesê het: ‘Toe het Ek in my toorn ‘n eed afgelê: In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.’ En tog was sy werk ná die skepping van die wêreld reeds afgehandel, want êrens in die Skrif word van die sewende dag dit gesê: ‘En God het op die sewende dag gerus van al sy werk,’ terwyl hier weer gesê word: ‘In my rus sal hulle beslis nie ingaan nie.’

Dié wat vroeër die blye boodskap gehoor het, het dus vanweë hulle ongehoorsaamheid nie in sy rus ingegaan nie, maar vir sommige bly die moontlikheid bestaan om in sy rus in te gaan.

God het immers weer ‘n dag bepaal, naamlik ‘vandag,’ wanneer Hy, soos reeds voorheen aangehaal, soveel later by monde van Dawid sê: ‘Vandag, as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie.’

As Josua hulle in die rus laat ingaan het, sou God nie daarná nog van ‘n ander dag gepraat het nie.

Daar wag dus nog steeds ‘n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingaan, rus van sy werk, net soos God van Syne.

Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand hulle voorbeeld van ongehoorsaamheid navolg en ook omkom nie.”

Hierdie Skrifgedeelte leer ons dus dat beide die Sewende Dag se rus waarvan ons lees in Genesis en die rus soos in die land van Kanaän, soos in die boek Josua beskryf, dui na die “rus in geloof” wat nou ons deel is in Christus.

Hierdie rus van God is nou daar vir God se mense, sê die Hebreër-skrywer, want elkeen wat glo het hierdie rus ingegaan en rus nou van sy eie werke en pogings.

Hierdie rus wat ons deel word omdat ons glo, ervaar ons nou as ons deel kry aan God se Koninkryk.

Alhoewel die Koninkryk van God eers ten volle sal manifesteer in die toekoms wanneer Christus Jesus weer kom (kyk 2 Tim. 4:1), gaan ons reeds hierdie Koninkryk in die hier en nou in en belewe ons reeds iets daarvan hier op aarde in ons lewe nou (vgl. Luk. 17:20,21; Kol. 1:13).

Rom. 14:17 beskryf dit so: “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”

Hierdie Koninkryk is dus deel van ons erfenis in Christus omdat ons in Hom en wat Hy reeds vir ons gedoen het glo. Dit is dus ook die “Hemelse plekke in Christus” waarvan ons daar in Efesiërs lees, waarvan ons ’n skadubeeld van kry in die Ou Testament as die volk Israel Kanaän in besit neem as hulle erfenis (kyk Jos. 11:23; Ef. 1:18; 5:5).

Net soos wat die Israeliete die inwoners van Kanaän moet beveg om hulle beloofde koninkryk binne te gaan en te verkry, so moet ons die Koninkryk van God ingaan deur die geveg van die geloof (vgl. 1 Tim. 6:12).

Daarom staan hier in Hebreërs 4: “Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan.” En in Mat. 11:12 beskryf dit so: “Sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe breek die koninkryk van die hemel vir homself ‘n pad oop, en mense wat hulle kragtig inspan, kry dit in besit.”

Daarom lees ons in Hand. 14:22 hoe die apostels die gelowiges aangespoor het om getrou te bly in die geloof deur vir hulle te sê: “Ons sal eers deur baie verdrukking moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom.”

Daar is net een manier om hierdie Koninkryk van God binne te gaan en dit is deur geloof (Luk. 16:16; Heb. 4:3).

Daarom is dit amper paradoksaal as ons dink dat om God se rus in te gaan deur geloof, moet ons ophou met ons eie werke en pogings, net soos wat God, na Sy skeppingswerk van 6 dae, opgehou het met Sy werk.

Die inherente beginsel van die Sabbat is dus dat die mens bedoel is om eers te rus voordat hy/sy hulle werk kan doen die volgende ses dae. Dink daaroor: Adam is om die sesde dag geskape. Sy eerste volle dag was dus in werklikheid God se “rusdag”.

In Efesiërs leer Paulus presies dieselfde beginsel onder die inspirasie van die Gees. Ons moet eers ons sitplek inneem in Christus in die hemelse plekke (Ef. 2:6), voordat ons kan wandel in geregtigheid (Ef. 4:1) en teen die vyand ons staanplek en posisie kan inneem in die daaglikse gevegte wat vir ons voorlê (Ef. 6:11).

Om te rus in geloof in die volkome, voltooide werk van Jesus Christus vir en namens ons, is die geloof-fondasie vir ons hele geestelike lewe en werk as volgelinge van Jesus. Alleen diegene wat in God se beloftes en Woord hulle rus gevind het in geloof en opgehou het om self te probeer, kan God se geregtigheid, vrede en vreugde ontvang.

Alleen diegene wat op God se Gees in geloof vertrou en nie op hulle eie krag en pogings reken nie, kan God werklik tevrede stel. Rom. 7 en 8 leer ons dat ons eie pogings nie geregtigheid in ons eie lewe kan bewerk nie, net geloof in Christus Jesus en wat Hy gedoen het, kan.

Christus Jesus is die Koning en met Sy koms breek hierdie Koninkryk van God ook nou op planeet Aarde aan.

Daarom preek Johannes dan dat hierdie Koninkryk ook nou toeganklik is vir ons as mense (kyk Mat. 11:11-12). Daarom is die skaduwee van die Sabbat ook in Christus Jesus volkome vervul en het dit ook in Hom volle betekenis gekry.

Die ware Sabbat is die Koninkryk van God wat hier tussen ons reeds is en wat eendag volkome ’n werklikheid sal wees vir almal om te sien.

Die Sabbat en die Tien gebooie
As die Sabbat dan ’n skaduwee is soos Kol. 2 en Heb. 4 baie duidelik aandui, hoe moet ons dan dink oor die Vierde Gebod oor die Sabbatdag in die Tien gebooie?

Die antwoord, lyk vir my, is baie eenvoudig.

Die Tien Gebooie is ’n kort en bondige opsomming van al 613 wette van die Tora of Wet van Moses. So sien ons daarin bv. voorbeeld van hoe die etiese wette daarin ons verhouding met God beïnvloed as daar staan, “Moenie God se Naam ydellik gebruik nie”, of hoe hierdie etiese wette ons verhouding met ander mense sal beïnvloed as daar staan: “Moenie steel nie”, of “Moenie doodmaak nie”. Maar ons sien ook ’n voorbeeld hoe die seremoniële wette in hierdie Tora ons lewe sal beïnvloed as daar staan, “Onderhou die Sabbatdag”.

Verder, volgens Eks. 31:13 en Eseg. 20:12, is die Sabbat die teken van God se verbond met die volk Israel. Die Sabbat was die teken van God se verbond vir Israel op dieselfde manier as wat die besnydenis ’n teken was van God se verbond met Abraham.

Daarom lees ons ook dat alhoewel beide die besnydenis en die Sabbat “ewige verbonde” is in die Ou Testament (kyk Eks. 31:16; Lev. 24:8; Gen. 17:13), dit nie langer bindend vir ons as volgelinge van Jesus is nie, omdat dit volkome vervul is as skadubeelde in die Ou Testament, omdat Jesus Christus nou ons Ewige Sabbat is en ook ons Ewige Besnydenis van die hart is.

Wat nou vir ons belangrik is om die ware Sabbat te onderhou en om deel te hê aan die ware Besnydenis wat ons albei deur die geloof in Christus Jesus ontdek en beleef het.

Daarmee gesê, as die Sabbat dan ’n skaduwee is wat na Jesus gedui en in Hom volkome vervulling gevind het, maak dit nie meer saak op watter dag van die week jy God wil aanbid of watter dag van die week jy anders wil inrig as die ander ses werksdae van die week nie, solank jy nie God se karakter of ander mense daardeur oneer of skade aandoen nie.

Om hierdie rede is daar geen teks in die Nuwe Testament wat volgelinge van Jesus beveel om die “letter van die wet” te onderhou soos wat ons dit in die Vierde Gebod vind nie.

Inteendeel. Gaan lees maar weer hoe Paulus in hierdie verband daar in Rom. 14:5-6 gelowiges leer wat juis oor hulle verskille hieroor mekaar aanmekaar veroordeel. Ek haal dit vir jou aan: “Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting.

Die een wat ‘n bepaalde dag op ‘n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.”

Paulus sê dat ons elkeen in ons “eie gemoed oortuig moet wees van sy of haar opvatting”.

Elkeen van ons moet dus vry wees om volgens ons oortuiging te handel soos wat ons oortuig is die Here lei ons en nie ander veroordeel wat van ’n ander mening oortuig is nie, want, ons het immers gesien dat Israel se heilige dae bloot skaduwees is wat reeds in Christus volkome vervul is (Kol. 2:16).

Die Eerste Dag van die week

Alhoewel die vroeë Christene nie meer die letterlike Sabbat onderhou het nie, het hulle wel gereeld bymekaargekom op Sondae. So lees ons bv. in Hand. 20:7 hoe die volgelinge van Jesus bymekaargekom het en brood gebreek het op die Eerste Dag van die week. In 1 Kor. 16:2 lees ons hoe Paulus vir die volgelinge van Jesus aanmoedig om hulle finansiële offers gereed te maak en gereed te hou om te gee op die Eerste Dag van die week.

Sondag is die Eerste Dag van die week. Die Joodse Sabbat, van Vrydagaand 18h00 tot Saterdagaand 18h00, was die Sewende Dag van die week.

Verder, die Bybel leer ons nêrens of veronderstel nêrens dat die Joodse weeklikse Sabbatdag nou skielik verander het na die Sondag toe nie. Inteendeel. Die Bybel leer ons juis dat die Sabbatdag ’n skadubeeld was wat ten volle vervul is in Christus Jesus.
Tog is dit interessant dat die vroeë Christene die Sondag die “Dag van die Here” genoem het.

Hierdie siening het hulle gebaseer op Ps. 118:22-24 waar die volgende staan: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.

Dit is deur die Here gedoen en is ‘n wonder in ons oë!

Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.”

Hulle het dit so vir hulleself uitgemaak: Hierdie teksgedeelte in die Psalms dui op die dag wat Jesus uit die dood opgestaan het (sien Hand. 4:10-11). En Hy het opgestaan op die Eerste Dag van die week, daarom was dit juis die dag wat Hy die belangrikste steen, of Hoeksteen, geword het (Mark. 16:9).

Alhoewel ek dink dat ek hiermee hierdie vraag na behore beantwoord het, kom ek hanteer tog nog een of twee verwante sake.

Daar is sommige voorstanders van die Joodse Sabbatdag wat wil suggereer dat die apostels die Joodse Sabbat onderhou het want ons lees dat hulle na die tempel en die sinagoge op die Joodse Sabbat gegaan het om die boodskap van Christus daar te gaan verkondig.

Maar hulle hou natuurlik nie ingedagte dat die apostels juis daardie dag gekies het om daarheen te gaan nie om juis teenoor die onbekeerde Jode en mense uit ander volke wat op daardie dag daar byeen was te gaan getuig dat Jesus die Christus of Messias was wat gekom het.

As jy gedeeltes soos Hand. 13:14-48; 14:1-7; 17:1-14 en 18:4 mooi gaan lees sal dit duidelik wees dat hierdie uitreike op hierdie dag evangelisasie-uitreike was en niks te make gehad het met ’n onderhouding van die Sabbat as volgelinge van Jesus nie.

Paulus se woorde daar in 1 Kor. 9:19 tot 23 verduidelik dit baie goed: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.

Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.

Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen.

Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.

Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.”

’n Kykie in die Kerkgeskiedenis

Uit die Kerkgeskiedenis is dit gou duidelik dat die vroeë Christene gereeld bymekaargekom het op die Eerste Dag van die week. Hulle het selfs van die Sondag gepraat as die “agste dag”, waar die syfer agt dan bedoel was as ’n aanduiding van die “nuwe begin” wat Jesus juis in hulle lewe veroorsaak het.

Dit was nie net waar van gelowiges wat in Rome en Alexandria gelewe het nie (soos sommige wil voorgee nie), maar dit was ook waar van gelowiges wat in ander dele van die wêreld Jesus gevolg het, soos in Antiochië en Klein-Asië.

Luister maar na die volgende stukkies getuienisse in die verband:

Ignatius van Antiochië (wat geleef het van 30 tot 107 n.C.) konstateer dat die Christene “nie langer die Sabbat onderhou het nie, maar wel die Here se Dag onderhou het.”

In die Didaché (wat in 80 n.C. geskryf is) lees ons: “Kom byeen as gelowiges op die Here se dag, breek brood en dank God.” (7:381)
In die Brief van Barnabas (uit die vroeë 2de eeu) lees ons: “Ek gaan ’n nuwe begin op die agste dag maak, ’n begin van ’n ander, nuwe wêreld. Daarom, kom ons vier die agste dag met vreugde, want dit is die dag wat Jesus uit die dood opgestaan het.” (Hfs. 15)

In sy Eerste Apologie, skryf Justus die Martelaar (wat geleef het van 100 tot 167 n.C.), “Op die dag wat Sondag genoem word, het ons ’n algemene byeenkoms van almal wat in die stede of in die omliggende distrikte woon, waartydens die geskrifte van die Apostels of die skrywes van die Profete gelees is …” (Hfs. 67)

In die Leringe van die Apostels (wat geskryf is in 105 n.C.) lees ons: “Die apostels is daarom aangewys … op die Eerste Dag van die week hou ’n diens en lees uit die Heilige Skrifte en vier die nagmaal omdat ons Here op die Eerste Dag van die week opgestaan het hier op aarde en opgevaar het na die hemel.” (8:668)

Beide Tertullianus (wat geleef het van 160 tot 225 n.C.) en Justus die Martelaar het geskryf dat die Sabbat ’n skaduwee was wat in Christus vervul was net soos wat die besnydenis in Hom vervul is.

Daarom, ten slotte, skryf die Kerk-historikus, Eusebius, die volgende: ““From the beginning Christians assembled on the first day of the week, called by them the Lord’s day, for the purpose of religious worship, to read the Scriptures, to preach and to celebrate the Lord’s supper.”

En dan gaan hy voort om te sê dat die rede waarom gelowiges eerder die Sondag daarvoor gekies het, was omdat Jesus op daardie dag van die week opgestaan het uit die dood.

Natuurlik wil ek nie hiermee suggereer dat Christengelowiges nou op ’n Sondag moet vergader nie, want daar bestaan natuurlik glad nie so ’n wet in die Nuwe Testament onder die nuwe verbond nie. Paulus maak daarom baie duidelik dat daar nie meer sulke “heilige dae” op God se kalender bestaan nie (kyk maar weer in Rom. 14 wat daar staan).

Dit demonstreer wel dat beide die vroeë kerk en die antieke kerk – voor Konstantyn die Grootte, nie die Sabbatdag onderhou het as rusdag of vir dag van aanbidding nie.

Kom ons vat saam

Ten slotte, die bevel om die Sabbatdag te onderhou was ’n stuk Tora-wetgewing onder die Ou Testament wat ’n voorafskaduwing is van die rus in God se Koninkryk wat Jesus Christus sou bring (kyk Heb. 4), wat in essensie, ons Sabbatsrus is.

God se begeerte is dat ons in hierdie geestelike rus sal ingaan in geloof, eerder as om te probeer om die letter van die Sewende Dag-Sabbat-wet te probeer onderhou. Sy hart is immers dat ons die werklike inhoud van die Sabbat sal vasgryp eerder as om aan die skaduwee vas te hou. Die werklike Sabbat is immers ’n Persoon, Jesus, die Christus en nie ’n dag in die week nie.

Jy is werklik vry

Daarmee alles gesê, as iemand dan steeds wil aandring dat gelowige volgelinge van Jesus die Vierde gebod oor die Sabbat moet onderhou, dan moet hulle besef dat hulle daarmee verplig is om elke man en seunskind te besny.

Hulle is dan ook verplig om steeds die bloedoffers van die Ou Testament te offer.

Hulle is ook dan steeds verplig om al die tempel-aanbiddings rituele te onderhou.

Hulle is ook verplig om hulle huise skoon te maak en te reinig van alle vorms van gis/suurdeeg ten tye van die spesifieke jaarlikse feeste.

Hulle is ook verplig om nooit klere te dra wat vervaardig is van ’n mengsel van tekstiele nie.

Hulle is verder verplig om elke stukkie wetgewing oor seremoniële rituele letterlik na te kom wat in die Wet van Moses uitgespel word.

As jy een van diegene is wat van hierdie standpunt oortuig is en ander hiervan wil oortuig, onthou dan die woorde van Petrus daar in Hand. 15:10: “Waarom wil julle dan nou God se geduld op die proef stel deur op die nek van die gelowiges uit die heidennasies ‘n juk te lê wat ons voorvaders nie in staat was om te dra nie en ons ook nie?”

Ek wil jou ook verder aanmoedig om die boek aan die Hebreërs weer ’n slag noukeurig en stadig te gaan deurlees en mooi te herkou aan wat daar geskrywe is onder die inspirasie van die Heilige Gees.

Die Nuwe Testamentiese openbaring is baie duidelik daaroor dat Jesus ons ou vlees besny het met die mes van Sy Gees. Dit is baie duidelik dat Christus ons bloedoffer is. Dit is verder baie duidelik dat Jesus God se Tempel is waarvan ons nou deel is deur geloof. Dit is baie duidelik dat Christus ons bekragtig het om gesuiwer te word van die “ou gis of suurdeeg” van sonde en om anders en onbesmet te lewe in hierdie wêreld.

Dit is ook onmiskenbaar duidelik uit wat hier bo geskrywe is, dat Jesus ons Sabbatsrus is.

LAAI HIERDIE DOKUMENT AF DEUR OP DIE VOLGENDE SKAKEL TE DRUK:

Kom ons dink weer oor die Sabbat

Advertisements

Kom ons bid vir herlewing juis in hierdie tyd

Dit is daardie baie spesiale tyd van die jaar, tussen die herdenking van die hemelvaart van Jesus Christus en Sy uitstorting van die Heilige Gees in en op Sy Ekklesia destyds op Pinksterdag.

Een van die merkwaardige gebeure in Suid-Afrika is dat die Here een van die invloedryke dele van die Liggaam van Jesus, naamlik die NG Kerk, al vir meer as 150 jaar, aangespoor het om juis in hierdie tyd intens te bid en in te tree, soos die dissipels van ouds, dat God ons weer opnuut moet toerus en salf met Sy Gees en Sy gawes om so effektief moontlik Sy getuies te wees.

Ek self is voor die Here in hierdie tyd besig om te bid vir daardie beloofde Herlewing wat God my in ‘n visioen in 1997 gewys het, wat weer hier in die Wes-Kaap gaan begin en gaan rol oor Suid-Afrika, Afrika en dan ook sal versprei na die res van die wêreld. Verlede jaar, glo ek, het die Here profeties gesê: Daardie herlewing is hier!

Daarom was dit vir my so merkwaardig om die afgelope week te lees hoe Randy Clark, van Global Awakening Ministries, se intersessie-groep die volgende profetiese woord “gehoor het” van die Here. Toets dit self voor die Here in hierdie tyd en as jy, soos ek, glo dit is van God, bid dit saam met my af van die Here.

“Your hour of deliverance is nigh For the Lord has called you to be a mighty sheep nation. A nation of justice and truth. A people who know the voice of the Shepherd. Those who follow His will. Those who go where His path leads. Those who lead others to green pastures and still waters.

Arise Beautiful Bride, South Africa. For the Lord has called you to feed the nations from His abundance. He has called you to take the homeless poor into your heart. He has chosen you to love and feed the masses, for He has blessed you to be a blessing. You are a Joseph Storehouse South Africa. The Lord is releasing wisdom to you. This wisdom brings regional transformation. Winds of Hope are bringing change.

Angelic might and power is being released to you. Seek to know My Name, says the Lord, for I will come to you. I will fill you so you will overflow. You are to be an outpouring of hope and grace. Remember to always seek My face. To seek My kingdom first. Everything you need will come from Me. Seek My righteousness and I will clothe you in my grace with gifts and power. Humble yourself and I will come to you. My promises to you are faithful and true. I have called you be my bread-basket and to be a people of living hope to all of Africa. It’s not just about those who take, but to arise and be those who give and give and give that you might live in the abundance of My life.

I am the plumb line aligning you. I am the tuning fork fine-tuning you. I am the fire in this revival that is blowing across this land. The movement of My heart is this awakening. Don’t quench the fire. I am bringing healing and salvation.

South Africa: Embrace My ways. Let Me move in fullness. Don’t stop the flow or shut off the valve of Holy glory oil and fire. For I am releasing a river of My presence to wash over this land. My life-giving river will heal every dry place. This is My desire, an awakening of love. I will fuel your hearts with faith. I will cause you to arise on winds of Hope to bring about change. I am Wisdom, I am at the gate and I am releasing transformation. I declare it so.”