Tert se Safari – ‘n Ware verhaal van ‘n man wat by Sabi Sands was

Ek was in my houtwerkkamer besig om ʼn stuk plank in iets bruikbaar te omskep toe my vrou daar inkom.  Sy kom nooit daar nie, maar ás sy die dag daar instap, is daar moeilikheid.

“Kyk hier,” sê sy en hou ʼn posstuk na my toe uit.

Eers dog ek dis ʼn dagvaarding.  Dit gaan partykeer maar sleg by ons.    Ek maak oop en sien tot my verligting dis ʼn uitnodiging.    Na ʼn troue.    En Tert is die bruidegom.

Vinnig maak ek ʼn paar somme en ek sien dat hierdie Mevrou Tert nommer agt sal wees.

Ek word so vaal om die kiewe toe ek sien dis Mevrou Tert nommer een wat nou nommer agt gaan word.    Lien.

Tert se selfoon is op voice mail, en ek besluit ek kan nie wag nie.  Hierdie ding moet ek uit sy eie mond hoor.

Ek los alles net so en wip in my bakkie.  Die wiele skuif om die draaie tot by Tert se huis.  Die bakkie luier nog, toe is ek al by die hond verby, die huis in.  Ek kry hom agter by sy lapa.  Tert; nie die hond nie.

“Wat gaan hier aan?” vra ek sonder om te groet en druk die uitnodiging onder sy neus in.

“O, dit” sê Tert toe hy die kaartjie sien.  “Ek en Lien gaan weer trou.  Dis al.”

“Trou” sê ek, “trou!  Jy wat geen vrou kan uitlos nie!”

Ek is geskok en ek is kwaad en sommer nog ʼn paar ander goed wat nog nie name het nie daarby vir die ding wat Tert nou weer met Lien wil aanvang.    Hy sien dit.

“Sit ou maat” sê hy en druk my op my skouer knoppe tot ek sit.

Ek sit. En ek wag.  Hier, sê ek vir myself, hier, het ʼn ding gebeur en ek het nie ʼn clue wat dit is of was nie.

“Pitte, nooi my mos toe saam op ʼn jagtog” begin Tert.

Ek weet daarvan.  Ek en Pitte het die ding bekook en bekonkel, maar ons het nog nie weer gekuier vandat hulle terug is nie.  Pitte het net ge-SMS en gesê alles is orraait en ons gesels later en goeters.

“Alles was op die huis.  Pitte se besigheid betaal glo alles.  Ek was so opgewonde soos in g’n jare nie.  Ek was lanklaas in die bos, en die safari is op die grens van die Wildtuin.  Ek olie my geweer, en kry alles reg wat ʼn man nou moet saamvat jagveld toe.

“Verlede Donderdag val ons dou voor dag in die pad.  Geweer, koelboks, die lot.  Die pad is stil, en Pitte is ook nie baie haastig nie.  Ons het baie tyd om te gesels.  Ons gesels oor alles, maar net nie oor kerk en die klas van goed nie.  Pitte weet hoe ek daaroor voel.

“Met die afklimslag sien ek die plek is nogal agtermekaar. Netjies.  Later kom daar nog manne aan en ek dink dis ʼn vreeslike safari die.  Die plaas moet allemintig groot wees vir so ʼn klomp jagters.  Ek sit maar stil eenkant en peuter met my geweer.  Ek brand om ʼn rooibok of ʼn koedoe deur die teleskoop te sien.  Die manne kyk my so skuins aan maar sê niks nie.

“Later moet ons na ʼn ander kamp toe vir ʼn paar administratiewe reëlings.  Dis nou hoe ek van Pitte dit verstaan het.  Die ander kamp is sommer loopafstand van ons. Daar aangekom sien ek ons is op die wal van die Sandrivier.

“Die sonnetjie wil net begin sak.    Net toe die safari leier begin praat, steun ʼn leeu so ʼn entjie stroom-op van ons. Ek was die ene hoendervleis.  Dis mos nou Afrika hierdie, dog ek so by myself.  Die BOS.

“Die safari leier bly stil.  Hy wag totdat die leeu klaar is met sy verwelkoming.  Toe hy so ʼn ent aan die gang is met die administratiewe reëlings – waarvan daar wel ʼn paar was – kom ek agter dat hierdie nie jou gewone safari is nie.  Hierdie safari begin ʼn kerkerige geurtjie kry.  Trouens, op geen stadium word daar van jag gepraat nie, dis net kerk en geloof en goeters en dinge!

“Ek was vies.  Ek kyk na Pitte, maar hy maak asof hy nie sien dat ek na hom kyk nie.  Ek luister toe maar, en ek moet erken, die safari leier, wat toe al die tyd ʼn lid van die Spes magte was, maar ook ʼn afgetrede weermag kapelaan is, ken sy storie.  Hy praat vanuit sy ervaring as Reccé in die bos en op die grens.  Hy stel toe ook die ander sprekers aan ons voor: Arrie en Anton en Gerrie en daar is ʼn blinde oom ook.  Oom Marius.  Hy doen die klank en die opnames.

“Ek is nou hier, en ry kan ek nie; Pitte het die kar se sleutel. Loop kan ek nog minder, want dis leeu wêreld die.  Ek berus my in my lot van twee en ʼn halwe dae van kerk en nog kerk.  Ek sal maar aan ander goed dink.  Dalk is dit nie so lank nie en gaan die tyd vinnig verby.

“Eers het ek maar met verdeelde aandag geluister.  Later het ek begin dink iemand het die sprekers afgetip oor my, want hulle praat oor al die goed wat in my lewe aangaan asof ek dit self vir hulle vertel het.

“Skielik was ek ook nie meer vir Pitte vies nie.  Iets was besig om met my te gebeur.  Eers wou ek dit nie erken nie.

“Later, waar ons alleen is, sê ek vir Pitte wat in my binnekant aangaan.  Hy het my sommer vas gevat en gehug.  Dis die eerste keer dat ʼn man my hug en dit het glad nie vir my verkeerd gevoel nie. Daardie hug het gesê ‘dis goed so tjom.  Ek is bly, my tjom.  Ek is daar vir jou my tjom.’

“Weet jy, hulle praat oor alles.  Jou huwelik, finansies, seksualiteit en nog ʼn hele hoop ander goed.  Terwyl ek luister, kom ek agter dat die manne ʼn lang pad met die Here geloop het.  Die Here het hulle teruggebring op die regte pad van verdwaal paaie en skelm voetpaadjies af.  Hulle is mense soos ek en jy.  Niks aanstellerig of ‘jy moet soos ek wees’ of die klas van goed nie.

“Tussenin was daar staptogte in die veld saam met van die aanbieders, wildritte, sterrekyk en stiltetyd in die veld.

“Die tweede dag toe leen die manne vir my ʼn Bybel.  Ek het mos nou nie hierdie kerk-ding verwag nie, soos jy weet.  Saterdagaand was die cherry op die koek.  Toe was dit nagmaal.  Ek was oorweldig.

“Net daar neem ek my toe voor om op pad terug by Lien in Bronkhorstspruit aan te gaan.  Daar was ʼn paar goed wat ek vir haar wou sê.

“Daardie troukaartjie in jou hand is die resultaat van wat ek vir haar wou sê.  Die kinders is net so bly.”

Daar is ʼn lastigheid in my oë.

“Ou maat, jy kyk nou na ʼn ander Tert” sê Tert en hy vee op sy beurt ook ʼn vogtigheid uit sy oog uit terwyl hy ʼn nuwe Bybel effens eenkant toe skuif.

Ek trek hom uit die stoel orent.  “My ou maat,” sê ek en ek húg hom.

Advertisements