NUWE WYN BEDIENING – 2016 en verder

Luk. 5:37, 38

“En niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie. As hy dit sou doen, sal die nuwe wyn die velsakke laat oopbars. Dan is die wyn vermors en die sakke daarmee heen.

Nee, nuwe wyn moet in nuwe velsakke gegooi word.”

 

A.    Uitgangspunt

Drs. Christo en Hetta Nel se hart is om met hierdie kursories voorlegging verslag te doen oor dit wat  hulle in opdrag van die lewende God wat hulle leer ken het in Christus Jesus doen in NUWE WYN.

Hulle is maar te bewus dat wat ook al in en deur hierdie unieke bediening baie effektief gedoen word, nie toegeskryf kan word aan mense se toedoen of as gevolg van hulle persoonlike kwaliteite of vermoëns nie. Nee, hulle is maar net gehoorsaam en gewillig om tuinslange te wees wat God se genade in verskillende vorms aan mense bedien in diens van die koms van Jesus Christus se Koninkryk op aarde. Hulle doen maar net in gehoorsaamheid wat God vir hulle sê deur Sy Gees sodat mense om hulle kan ontdek hoe lief hierdie God elkeen van hulle het.

Hiermee wil hulle graag jou uitnooi om aan die Here se voete te gaan seker maak of jy nie ‘n vennoot wil word en wil hande vat met hierdie bediening nie sodat Christo-hulle meer effektief kan doen wat God wil hê gedoen moet word.

 

B.    Inleiding

Midde al die geestelike verwarring in die kerklike wêreld, het die Here Jesus in 1993 met die woorde van Luk. 5, Christo Nel en sy vrou, Hetta, na ’n baie suksesvolle bediening van 14 jaar binne die NG Kerk, uitgedaag om hulleself beskikbaar te stel sodat Hy hulle kan gebruik in alle dele van die Liggaam van Jesus.

In 1993 het die Here hulle geroep as pioniers wat tipies tradisionele Afrikaanssprekende gelowiges inlei in die nuwe dinge waarmee Hy as God besig is. Daarom moes hulle ook bedank as leraarspaar in die NG Kerk, om beskikbaar te wees sodat Hy hulle kon gebruik deur Sy Gees en die gawes van Sy Gees, om onverskrokke die bekende waarhede in die Bybel onverdun en ongekontamineer deur allerlei kerklike lering en tradisies, te bedien aan Sy mense.

Die waarheid van die Woord, deur die werking van die Gees van God, het immers krag om mense werklik vry te maak en hulle denke en lewens radikaal te vernuwe, in lyn met God se oorspronklike plan.

Die Here het ook belowe om hulle Totale Versorger in die toekoms te wees en dat Hy Sy kinders wat hulle bedien sou gebruik om alles wat hulle mag benodig te voorsien, as hulle gehoorsaam doen wat Hy vra.

Hiermee wil hulle dus ook aan jou vra om seker te maak by die Here of jy nie een van die mense is waardeur die Here aan hulle en hulle bediening dit te voorsien wat hulle mag benodig nie.

 

C.    Die visie vir hierdie bediening

Sedert 1993, na hulle bedanking uit die NG Kerk, is drs. Christo en Hetta getrou besig met die opdrag wat die Here hulle gegee het en kon die Here hulle gebruik om meer as tienduisend mense se lewens te impakteer en te bedien.

NUWE WYN BEDIENING is ‘n platform waarop hulle in Jesus se diens ander in verskillende rolle bedien het.

 

1.     In ’n apostoliese rol

Die Here gebruik hulle om aan God se mense die groter prentjie te skets waarmee God besig is om Sy Koninkryk hier op aarde te laat kom. (Vgl. 1 Kor. 15:24 e.v.; Mat. 28:18-20; Gal. 2:16-21; Kol. 1:27-29; 2:6-15; 3:1-4:6).

Hulle wys ook vir mense hoe bedien die Bybelse Ekklesia of ware Kerk van Jesus Christus mekaar en die wêreld rondom hulle meer effektief (in ’n nuwe wynsak), sodat God se Koninkryk meer en meer kan kom. (Vgl. Ef. 4:11-16; 1 Kor. 12:3-14:39).

As pioniers help hulle om ou strukture af te breek en om nuwe, Gees-gedrewe wynsakke in die plek daarvan te sit.

God gebruik hulle ook om so individue en gemeenskappe voor te berei vir transformasie en vir herlewing en dit wat God nuut tussen hulle wil doen.

 

2.     As profeet vir die nasies

Hulle tree ook op as God se spreekbuis teenoor regerings, in die sakewêreld, landbou en onderwys. Voorbeelde hiervan is toe dr. Christo in November 2015 ‘n profetiese woord vir President Zuma en sy regering persoonlik by die Parlement moes gaan gee het, asook die profetiese woord oor die val in wêreldmarkte wat as ‘n e-boek vanjaar einde Junie op AMAZON gepubliseer moes word.

Verder is hulle ook mentor en profeet teenoor besighede, kleiner groepe en in individue se lewens.

 

3.     As “equipper of God’s people, equipping and empowering people”

Ef. 4:11 tot 16 bly Christo en Hetta se oogmerk binne die ware Kerk van Jesus, naamlik om God se mense toe te rus met die oog op hulle bediening onder mekaar en teenoor die wêreld.

Dr. Christo Nel het as kreatiewe skrywer en spreker, verskeie toerustings- en ander opleidingsmateriaal geskryf en gepubliseer wat gelowiges kan toerus vir hulle bediening daar waar God hulle geplaas en geroep het.

Hy is ook fasiliteerder, mentor en leraar van die waarhede van die Woord van God vir nou in gemeentes en allerlei groepe gelowiges waarheen hulle uitgenooi word.

Hy Is ook toeruster en bedienaar van ’n nuwe geslag leiers, wat God besig is om op te rig.

Verder is hy reeds vir jare besig om ’n virtuele, digitale platform en portaal op te rig om te help om hierdie nuwe geslag leiers vir bediening en besigheid toe te rus.

Via die internet bedien dr. Christo reeds vir meer as 16 jaar duisende gelowiges op alle kontinente in die wêreld weekliks met die Woord. Behalwe vir ‘n internet gemeente van meer as 4000, gebruik hy ook verskeie webblaaie en ander internet platforms om mense met die Woord te bedien. Van die nuutste toevoegings hiertoe is die uitnodiging wat hy via Solidariteit en Afriforum gekry het om via hulle wêreldwye nuusbrief hulle lesers met die Woord te bedien.

 

4.     As “life strategist” en pastorale begeleier

Dr. Christo word tans deur die Here in die lewens van baie invloedryke sake- en besigheidsleiers, asook in die lewens van bykans ʼn honderd geestelike- en gemeenteleiers gebruik.

Hy is ook ʼn profetiese stem en strategiese konsultant vir verskeie groot besighede en direksies wat sensitief saam met hulle luister na God se plan en strategieë vir hulle besighede.

Hy tree ook op as CAREER DIRECT-toetser wat skoliere, skoolverlaters, studente en volwassenes op die internet op enige plek in die wêreld, in al die hooftale van die wêreld, kan toets om te bepaal wat die persoonlikheid, vermoëns, belangstellings en waardes van elkeen van hierdie persone is en hoe God hulle op die mees effektiewe wyse kan gebruik in die lig hiervan in Sy Koninkryk.

 

5. Christo en Hetta is “Kingdom stewards”

Uit dit waarmee God hulle versorg en seën, vertrou Christo-hulle die Here om hulle weer op hulle beurt te gebruik om mense uit die volgende groepe te seën en te versorg:

  • In die lewens van verskeie voltydse bedienaars in die Koninkryk, uit veral die swart en bruin gemeenskap
  • In die lewens van gelowiges in nood
  • En uiteindelik ook in die lewens van ongelowiges in nood.

6.     En dit alles binne NUWE WYN as ’n suksesvolle, selfversorgende besigheid

Christo het ook die afgelope tyd besef dat NUWE WYN nie net ‘n bediening is nie, maar ook ‘n besigheid is waarvoor hy verantwoordelikheid moet neem. Daarom beskou dr. Christo dit as deel van sy verantwoordelikheid om te sorg dat al die besigheidspraktyke van die bediening sodanig sal wees sodat dit ook ekonomies suksesvol sal wees.

Daarom het Christo en Hetta begin om ʼn FAMILIE VAN FAMILIES gelowiges rondom hulle te skep wat kan dien as ’n ondersteuningsnetwerk vir hulle persoonlik maar ook vir die bediening.

Hierdie mense sal dus ook ge-commit wees om ook finansieel te saai in die lewens en bediening van drs. Christo en Hetta Nel.

Beskou hierdie voorlegging as ‘n persoonlike uitnodiging om deel te word van hierdie FAMILIE VAN FAMILIES met alles wat dit behels.

Verder vertrou Christo en Hetta ook die Here om hulle sensitief te maak vir ander kanale van inkomste waardeur die Here die bediening finansieel wil versorg.

 

D.    Die infrastruktuur van die bediening

Dit behels tans die volgende:

  • ’n Huis in Somerset-Wes wat dien as woonhuis, maar ook as kantoor en fisiese adres van die wêreldwye bediening, NUWE WYN.
  • Dit is tans ook die pastorale spreekkamer waar drs. Christo en Hetta Nel honderde gelowiges pastoraal bedien.
  • Dit is ook die kantoor van die GEMEENSKAP VAN NUWE TESTAMENTIESE GEMEENTES landswyd, waarvan dr. Christo Nel die voorsitter tans is.
  • Dit is ook die basis van ’n wêreldwye internet-bediening en virtuele teenwoordigheid waardeur hulle meer as 4000 gelowiges wêreldwyd met Woord bedien.
  • Dan is daar ook verskeie publikasies, wat tans bestaan uit 4 boeke en 2 DVD-reekse, asook ander toerustingsmateriaal beskikbaar om die bediening verder meer effektief te maak.

 

E.     Nuwe projekte wat tans aan die gang is

As deel van die virtuele en digitale teenwoordigheid van die bediening, het dr. Christo beleef om die volgende verder te ontwikkel:

  • Om al die sessies van die twee DVD-reekse as sessies aparte op YOUTUBE beskikbaar te stel vir meer effektiewe toerusting van God se mense.
  • Om al die lering en prediking van dr. Christo wat opgeneem en in video-vorm beskikbaar is, ook op so ʼn nuwe YOUTUBE-kanaal beskikbaar te stel vir gelowiges wêreldwyd.

F.     Onmiddellike behoeftes in die bediening

Drs. Christo en Hetta Nel vertrou tans die Here vir die volgende:

  • Vir ʼn bedrag van R40 000 om die geute van die huis te vervang na ernstige reënskade en omdat die ou geute van die huis nog die ou gevaarlike asbes-geute is.
  • Vir ʼn bedrag van R23 000 om die huis aan die buitekant weer netjies te verf na dit in 2005 laas gedoen is.
  • Vir R10 000 vir ʼn nuwe rekenaar vir die bediening nadat die ou ene die afgelope week na jare van goeie diens ingegee het. (Hulle vertrou tans dat dit deur hulle korttermynversekering vervang sal word, aangesien dit as gevolg van die onstabiele kragtoevoer gebeur het.)
  • Vir ʼn bedrag van R8 000 om die voertuig van die bediening, ʼn Audi A4 1.8T, te diens en noodsaaklike onderdele te vervang. ʼn Verdere R10 000 is binnekort nodig om die bande van die voertuig te vervang.

G.    Ten slotte

Deur God se genade het hierdie unieke bediening reeds derduisende mense se lewens onherroeplik verander.

Hiermee bied ons dan ook vir jou ’n geleentheid om deel te wees van hierdie bediening.

Gaan maak aan die Here Jesus se voete seker of jy (en jou besigheid of boerdery) nie deel wil word van Christo en Hetta Nel se FAMILIE VAN FAMILIES nie en om so deel te word van hulle ondersteuningspan wat hulle en die bediening ook finansieel sal ondersteun en so in staat stel om dit wat God hulle beveel, onverhinderd te doen.

Baie dankie vir jou aandag.

By voorbaat dankie.

Drs. Christo en Hetta Nel

christo-en-hetta

BANKREKENINGE

Die bankrekeninge wat vir NUWE WYN gebruik word is die volgende:

1. Die ABSA-tjekrekening van C A Nel, rek. nr. 4040149654, takkode: 632005, BIC/SWIFT: ABSA ZAJJ.

2. Die CAPITEC-rekening van C A Nel, rek. nr. 1345180967, takkode: 470010, SWIFT: CABLZAJJ.

Leave a comment