Dave Ramsey se 7 Baba-treë na ʼn totale finansiële regruk-aksie

Een van die belangrike dinge wat God se mense dringend moet doen, is om hulle finansies in orde te kry.
Vir God se Koninkryk om te kom en om deel te word van God se oplossing vir hierdie stukkende wêreld rondom ons, moet ons oorlog verklaar teen onnodige skuld. Dit is al manier hoe ons finansieel vry kan word.

Hier is die bekende Christen-sakeman, Dave Ramsey se 7 baba-treë na ʼn totale finansiële regruk-aksie:

1. Bou ‘n R10 000-noodfonds so gou moontlik op, indien moontlik binne ʼn maand. Dit is gewoonlik die maklikste tree om te gee, maar ook die moeilikste, want dit is hier waar jy moet besluit of jy regtig wil hê jou geldsake moet verander en of jy bereid is om te doen wat nodig is! Want dan moet jy begin spaar vir daardie onbeplande gebeure!

2. Begin om al jou skuld af te betaal deur daardie “skuld-sneeubal” aan die rol te kry in jou lewe! Maak ʼn lys van almal wat jy geld skuld, van die minste tot die hoogste bedrag. Begin dan om dit af te betaal maand vir maand, deur eers die minimum bedrae verskuldig maandeliks aan almal te betaal, behalwe aan daardie een vir wie jy die minste skuld, want daardie een betaal jy so gou moontlik heeltemal af. En so hou jy aan tot bo aan jou lys. Dit doen jy met alle skuld behalwe die uitstaande skuld op jou huislening. (Ja, ek weet sommige wil hê dat ons eers met daardie rekeninge moet begin waar ons die meeste rentes betaal! Maar laat ons nou nie hieroor begin stry nie, want as rentes nou werklik vir jou erns was, hoekom het jy in elk geval ʼn kredietkaart wat jy so rojaal vir alles gebruik? Volg jy maar net die voorgestelde metode, want dit gaan hier oor iets totaal anders. Dit gaan hier oor gedragsverandering! En om momentum te begin skep! En om jou aan te moedig om met dieselfde erns hieraan te begin werk as wat ʼn Springbokkie weghardloop vir ʼn leeu wat hom wil opvreet! Onthou, jy is besig om weg te vlug van daardie jagter wat jou wil beroof en selfs wil doodmaak as dit moontlik is, SKULD! En as jy lewendig anderkant wil uitkom, moet jy nou doen wat jy moet doen! En as jy dit gaan doen, gaan jy binnekort beleef: JY IS WERKLIK VRY!

3. Nou begin ons om daardie Noodfonds van julle uit te bou in ʼn fonds wat vir 3 tot 6 maande al julle groot uitgawes kan dek. Spaar hierdie Noodfonds in die een of ander eenvoudige Geldmark-spaarplan. Onthou, dit is nie bedoel om ʼn belegging te wees nie. Dit is bedoel om versekering te wees en om julle te beskerm in tye van onbeplande gebeure!

4. Begin om 15% van jou maandelikse inkomste te spaar vir aftrede. Om vir jou ʼn voorbeeld te gee van die krag hiervan: As jy begin om ʼn $100 te spaar vandat jy 25 jaar oud is, totdat jy 65 jaar oud is, teen ʼn 12% rentekoers = $1 176 477. Die meeste van ons het ook ʼn pensioenfonds van die een of ander aard, waar die regering of jou werkgewer die ander helfte maandeliks betaal, wat saam met saamgestelde rente vir jou miljoene rande aan die einde van die tydperk GRATIS gaan verdien! En selfs vir diegene wat al ouer as 40, of 50, of selfs 65 jaar oud is, dit is nooit te laat om hiermee te begin nie, behalwe as jy nie op die een of ander manier hiermee begin nie!

5. Begin dan spaar vir jou kind/kinders se studies na matriek. Om so ʼn Opvoeding Spaarrekening te skep is dit die beste om die geld in ʼn groeifonds van verskillende aandele te belê. Dit groei belasting vry. Maak tyd om werklik die kostes te ondersoek van wat naskoolse opleiding en studies deesdae kos! En asb., stuur jou kinders na ʼn skool/kollege/opleidingsentrum wat jy kan bekostig! Moet nie hier dink die duurste is die beste nie! Onthou, ʼn graad of diploma beteken in werklikheid nie iets nie! Dit gaan eintlik oor die kennis en ervaring wat jy opgedoen het om daardie graad of diploma te kry, en hoe jy dit gaan gebruik en toepas in die markplein, wat werklik die waarde daarvan gaan bepaal! Kennis en ervaring is die geldeenheid van hierdie millennium, en ook net as jy aanhou leer en ervaringe opbou! En dit hou beslis dus nie op wanneer jy afgestudeer het nie. Dan begin alles eintlik net! Wees dus geweldig versigtig vir daardie studielening nadat jy gestudeer het! Deesdae is die gemiddelde studielening nadat studente klaar is met hulle studies, R300 000! En dan is daar gewoonlik nog ʼn ekstra R60 000 kredietkaart-skuld! Gee asb., dus vir jou kinders die geleentheid om ook na-ure te werk terwyl hulle studeer, en betaal sover moontlik alles kontant tydens hulle studies!

6. Sodra jy dit alles op plek het, gebruik dan elke sent wat jy het om jou huislening so gou moontlik af te betaal! Kan jy dink hoe dit moet voel om geen huislening-skuld te hê nie! Dan gaan jy totale beheer hê oor jou magtigste wapen om werklik rykdom van waarde te begin bou: jou totale inkomste! Laat ek sommer dadelik met jou een van die grootste leuens oor geld hier ontmasker: Nl., dat dit wys is om altyd ʼn huislening van die een of ander aard te hê, want dit help jou om minder taks te betaal! Dit is ʼn infame leuen! Gaan doen maar net behoorlik jou somme! En onthou, jy is net gereed om ʼn huis van jou eie te koop wanneer jy Stap nr 3 voltooi het. Em my aanbeveling is om, dit sover moontlik, kontant dan te koop. En indien jy dit nie kan kontant koop nie, moet asb., nie ʼn huislening vir langer as 15 jaar neem nie, en ook nie een waar jy maandeliks meer as 25% van jou maandelikse inkomste op hoef af te betaal nie! En as dit nie moontlik is nie, moet nog nie ʼn huis koop nie. Jy is nog nie daarvoor finansieel gereed nie! Rom. 12:1 en 2. Soveel mense gebruik nie die geld wat hulle het met wysheid nie, en dompel hulleself in geweldige finansiële moeilikheid, net oor totale onkunde! Onkunde, omdat hulle net nie weet hoe nie! Ja, ek weet jy kan mense huur om jou te help om jou geldsake beter te bestuur, maar dit is nie goeie rentmeesterskap nie. Want jy moet leer om al hierdie dinge self te begin doen. Kry daarom eerder vir jou ʼn aantal kundige mense wat jou kan leer hoe om dit self te doen op die regte manier! Al waarvoor jy moet soek, is goeie raad. Onthou, dit is jou opdrag om jou eie lewe effektief en suksesvol te bestuur!

7. Al wat nou nog oor is, is om aan te hou om jou rykdom/wealth uit te bou en om te leer hoe om met groot wysheid oorvloedig daarvan weg te gee! En leer om die meeste genot te hê in die lewe terwyl jy besig is om meer en meer weg te gee! Natuurlik is dit ʼn nuwe manier om na dinge te kyk! Rykdom is nie ʼn manier om te ontsnap nie. Dit is eerder ʼn geweldige verantwoordelikheid! Onthou, omdat jy weet dat alles regtig aan God behoort en omdat Hy so genadig en goed vir jou is, het jy! Daarom, wanneer jy gee, gee dit naamloos sover moontlik! Onthou ook, dat jy is maar net God se hande en jy doen dit in Sy Naam en in Sy diens! Eintlik is daar net 3 dinge wat jy met jou geld kan doen: a. Jy kan soveel moontlik genot en vreugde daarmee hê! b. Of jy kan dit belê. C. Of jy kan dit weggee. En jy het nodig om al drie hierdie dinge te doen, om werklik iets van die oorvloed te belewe waarvoor Jesus werklik gekom het!

Ja, ons kan lewe uit wat ons verdien, maar ons lewe eers werklik wanneer ons begin weggee van wat ons verdien het!

Enige surplus wat ons het, is ʼn geweldige verantwoordelikheid en moet bestuur word tot die beswil van almal.

Ons is geskape met wonderlike liggame. Neem verantwoordelikheid daarvoor en voed dit met regte en lewendige kos. Onthou, jy het net een liggaam! Eet minder, oefen meer! Dit is nie regtig so moeilik nie!

Onthou, verder dat jy ʼn emosionele wese ook is. As daar dus iets seer en ergs met jou langs die pad gebeur het, gaan sit by iemand wat regtig kan help en maak klaar met daardie seer van die verlede, sodat jy dit nie heelpad met jouself hoef saam te dra nie! Die lewe is te kort om jou hele lewe daarmee te hoef te worstel. Gaan soek hulp asb.

Maar ons is ook intellektuele wesens. Hou dus aan om jou intellek te voed. Lees. Lees. Lees.

Onthou, jy gaan oor 5 jaar dieselfde mens wees, behalwe vir dit wat jy bygeleer en gelees het, en dit wat jy geleer het van die mense wat jy langs die pad teëgekom het.

As jy nie ook aandag gee aan die vierde aspek nie, gaan die ander ook nie regtig help nie.

Maar as jy ook dit deel maak van jou regruk-aksie, is daar balans!

Dit verseker dat daar vreugde, genoeg feesviering en passie in jou lewe is. Dit vermeerder selfs jou kreatiwiteit.

Waarna verwys ek?

Ek praat natuurlik van die onontbeerlike geestelike deel in jou lewe.

Hierdie 7 treë-plan is gebou op gewoon goeie lewenswysheid, maar veral op Bybelse beginsels en Bybelse wysheid.

En die proses werk, soos wat derduisende reeds ontdek het.

Al vraag wat oorbly, is: Wat gaan jy doen?

Moenie oor 5 jaar vorentoe wakker word en wens dat jy juis hier jou lewe begin verander het nie!

Begin nou daarmee!

Advertisements

One thought on “Dave Ramsey se 7 Baba-treë na ʼn totale finansiële regruk-aksie

  1. Baie waardevolle Christo, dankie! Dit lê my na aan die hart omdat so baie mense slawe van skuld word.

    Ek en my vrou het die kursus (Financial Freedom University) 3rde kwartaal verlede jaar (2018) gedoen. Meesal omdat ons skuldlas net al hoe meer geword het elke maand en ons meer wou leer oor geldsake. Uiteinde: ons het uitgeving daar is hoop en ‘n manier uit skuld uit en ook dat ons nog nie reg was om huis te koop toe ons gekoop het nie. Ons moes van vooraf begin.
    So, huis is intussen verkoop en ons het geen skuld, met ekstra in die sak. Die maandelikse uitgawes van erfbelasting, instandhouding, huiseienaarsversekering val weg, want ons gaan nou eers huur en spaar totdat ons op plek is om weer te koop. Ook die maandelikse rente op slegte skuld val weg.
    Ons is dus nou op ‘n plek van konsolidasie, van uit koeverte leef sodat die begroting nie net op papier ‘n begroting is nie, maar in realiteit ook. Geen kredietkaart meer! Volgende stap is om alle versekering te hersien en kyk of dit nie te veel is nie. En ‘n mede-volgeling van Jesus (en kenner van Dave Ramsey se metode) te gaan spreek oor die beste opsies vir welvaard skepping.
    Ek beveel beslis die kursus aan, en sou dit graag wou “promote” – dit word plaaslik (Helderberg) aangebied. Dave het ook YouTube kanaal – luister gerus na wat hy te sê het.
    Groete, Buks

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s