‘n Uitstekende beoordeling van die Christ In Me International-beweging (CIMI)

Na my artikel oor CIMI op hierdie NUWEWYN-WORDBLOG Kliek die volgende skakel na hierdie artikel van my

het ek soveel hartseerstories gehoor oor hierdie gevaarlike en leuenagtige beweging wat hulleself as ‘n “kerk van Jesus Christus” voordoen, dat ek so dankbaar is teenoor Rudolph P Boshoff vir sy uitstekende en omvattende artikel en videos oor al die leuens wat CIMI verkondig, en wat soveel mense, veral in die Gauteng en Pretoria-omgewing, so verwar en as gesinne uitmekaar ruk.

Behalwe al die leuens wat as sogenaamde Skrifwaarheid deur hierdie groep verkondig word, is die tragiese en mees gevaarlike aspek van hierdie beweging vir elkeen wat betrokke raak by hulle, die gevaar wat elkeen van hulle loop om die een of ander tyd deur hierdie groep gemanipuleer te word om te moet kies om nie verder met ‘n eggenoot/eggenote of ‘n geliefde familielid of geliefde vriend of vriendin verder ‘n pad te mag loop nie, alles onder die banier van “ter wille van die Koninkryk”.

Die teks wat hulle aanhaal om lede van hulle beweging te oortuig om weg te stap uit hulle huwelike en gesinne, is Luk. 14.

Daarom het ek nou die dag vir ‘n gesin soos volg geantwoord in hierdie verband:

“Kom ek help jou sommer om vir jouself ʼn toets-stelsel te ontwikkel om gou te bepaal of ʼn bepaalde verklaring van ʼn Skrifgedeelte die waarheid is of ʼn leuen is.

1. Onthou, die Bybel is volledig geïnspireerde Woord van God en kan dus nie met homself in stryd wees of homself weerspreek nie.
2. Daarom, moet elke gedeelte in die Bybel in konteks verklaar word – m.a.w. in die lig van die gedeelte en boodskap van die gedeelte waarin dit voorkom.
3. Daarom moet elke gedeelte in die Bybel altyd in konteks met die res van die Bybel se boodskap en ander gedeeltes in die Bybel verklaar word. Wat gewoon beteken dat as ʼn bepaalde teks so verklaar en uitgelê word deur iemand, sodat dit in stryd is met ander gedeeltes in die res van die Bybel en hulle boodskap, weet jy dat die verklaring van daardie persoon nie die waarheid is nie.

Met dit in gedagte, kom ons kyk na hierdie vers in Luk 14.

“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe.”

Die oomblik was ʼn groep soos CIMI daardie “afstand doen” begin verklaar asof dit kan beteken dat so ʼn persoon nou die reg het om hom of haarself te skei of te onttrek van hulle eie pa, ma, vrou, kinders en res van hulle familie, weet jy dat ons hier met ʼn foutiewe Skrifverklaring te make het, en dus met LEUENS te make het.

Want, net in die lig van wat in die vers self staan, hoe “skei” of “onttrek” jy jouself van jou eie lewe?

Maar verder, so ʼn foutiewe verklaring van die Skrif is ook totaal teenstrydig met wat in ander gedeeltes van die Skrif staan, soos:

Die onvoorwaardelike liefde wat God en dus Jesus self van Sy volgelinge vereis, sonder uitsondering en sonder voorwaardes. Soos Hyself daar in Joh. 13:34,35 vir ons uitspel:

34 Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Jesus en God se eie woorde oor die huwelik en die verbod om te skei, in die lig van die belang van die huwelik in God se oë, soos daar in Mat. 19:

“3 Daar was Fariseërs wat Hom op die proef wou stel, en hulle kom toe by Hom met die vraag: “Mag ‘n man sommer oor enige ding van sy vrou skei?”
4 Hy het hulle geantwoord: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie?
5 Daarby het Hy gesê: ‘Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees.’
6 Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ‘n mens nie skei nie.”
7 Hulle vra Hom toe: “Waarom het Moses dan bepaal dat, as iemand sy vrou ‘n skeibrief gee, hy van haar kan skei?”
8 Hy antwoord hulle: “Dit is oor die hardheid van julle harte dat Moses julle toegelaat het om van julle vrouens te skei, maar dit was nie van die begin af so nie.
9 Ek sê vir julle: Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor owerspel, en met ‘n ander een trou, pleeg egbreuk.”

Dit wat God se Gees Paulus geïnspireer het om te skryf oor die huwelik tussen ʼn gelowige en ʼn ongelowige in bv. 1 Kor. 7:

“10 Die getroudes beveel ek-nee, nie ek nie, maar die Here-dat ‘n vrou nie van haar man mag skei nie.
11 As sy tog skei, moet sy daarna ongetroud bly of haar met haar man versoen. Net so mag ‘n man ook nie van sy vrou skei nie.
12 Vir die ander sê ek-ek, nie die Here nie: As ‘n gelowige man met ‘n ongelowige vrou getroud is en sy gewillig is om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie.
13 En as ‘n vrou met ‘n ongelowige man getroud is en hy gewillig is om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie.
14 Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou, en die ongelowige vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God.
15 As die ongelowige egter wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die gelowige man of vrou nie gebind nie. God het julle geroep om in vrede te lewe.”

(En selfs dit wat Paulus dan ag as “nie van die Here nie”, omdat God dit belangrik genoeg geag het, en dit tog deur die Gees geïnspireer is, het Hy gesorg dat dit as deel van God se Woord oor bykans 2000 jaar wel aan ons oorgelewer sou word as “Woord van God”)

Dan is daar nog al die ander gedeeltes wat gaan oor God se eise vir die huwelik, oor die verhouding tussen ouers en kinders en kinders en ouers, soos daar in Ef. 5 e.v. bv.,:

“21 Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.
22 Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is.
23 Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk.
24 Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees.
25 Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het.
26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het,
27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.
28 Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief,
29 want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen
30 omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.
31 Daar staan in die Skrif: “Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.”
32 Hierin lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.
33 Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ‘n vrou moet aan haar man eerbied betoon.
1 ¶ Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis.
2 “Eer jou vader en jou moeder” is ‘n baie belangrike gebod. En daar is nog ‘n belofte by:
3 “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.”
4 En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.”

Hoef ek enigsins aan te gaan?

Ek dink nie so nie.

Dit behoort vir jou te help om te besef watter leuens ʼn totaal sektariese en van die spoor af-groep soos CIMI, aan sy mense verkondig.

Groetnis

Christo Nel”

Daarom wil ek enigiemand wat by hierdie groep betrokke is en wat nog oop is om te luister na kritiek, of enigiemand wat iemand anders ken wat self betrokke is by die groep of wat ‘n geliefde het wat betrokke is by hierdie groep, met al die erns wat ek het vra om asb., na die volgende webblad te blaai en die artikel en videos van Rudolph P. Boshoff te gaan lees en kyk.

Hier is die skakel daarheen:

<a href="http://adlucem.co/theology-christ-international-evaluated-ps-rudolph-p-boshoff/

2 thoughts on “‘n Uitstekende beoordeling van die Christ In Me International-beweging (CIMI)

  1. Pingback: CIMI is uit en uit ‘n “cult” | nuwewyn

  2. Baie dankie Christo dat jy en Rudolph Boshoff soveel moeite doen om al die foute uit te wys van CIM!

    Ken ‘n hele paar mense wat ook verblind was deur die man xandre.

    Ek wil net graag noem dat ek het met my gesprekke met vorige CIM lede agter gekom dat hy dieselfde voorbeelde en verduidelikings gebruik het as sekere pastore van o.a Amerika maar met ‘n draai daarin (Herinterpretasie). Dit was baie vroeg in sy misleiding toe hy populerder geword het. Die boodskap het al hoe meer xandre gesentreer geword.

    Wat dit vir my baie sterk op neerkom is dat hy ander preke geluister het en dit net so ‘ge-copy’ asof dit sy eie ontdekking was en NET aan hom geopenbaar was. Met alle respek gese, ek dink eerlik dat enige moontlike ‘slim’ of ‘skerp’ iets wat hy al ooit kon gese het, het nie van homself af gekom nie, maar eerder na iemand vir wie hy geluister het, waar hy maak asof dit sy eie spesiale openbaring is.

    Groete

    Riaan

Leave a reply to CIMI is uit en uit ‘n “cult” | nuwewyn Cancel reply